Nuus Flitse

Leer jou brein ken en verloor gewig

Diëet alleen is nie voldoende vir suksesvolle gewisgsverlies nie. Die brein is geprogrammeer om gedrag op bepaalde wyses te beïnvloed en ‘n diëet kan net suksesvol en standhoudend wees indien dit gepaard gaan met herprogrammering van die brein.

Ondanks die feit dat dat mense gebombardeer word met inligting oor die gevare van oorgewig en hoe om gewig te verloor, kan 40 % van Suid-Afrikaanse vroue as oorgewig of vetsugtig geklassifiseer word. Die probleem is ook nie net beperk tot volwassenes nie – ’n ontstellende 1 uit elke 4 dogters en 1 uit elke 5 seuns tussen die ouderdomme van 2 en 14 jaar is oorgewig of vetsugtig.

Volgens Prof Selena Bartlett van Queensland University of Technology se Instituut vir Gesondheid en Biomediese Innovasie is diëet alleen selde voldoende vir suksesvolle gewigsverlies omdat die brein gedrag sedert antieke tye reeds op bepaalde wyses beïnvloed.  Gevolglik gebeur dit dat mense wat dmv diëet gewig verloor dit dikwels vining weer optel en op die ou end vetter word en meer spanningsdruk ervaar as voor hulle met ‘n diëet begin het.

Gewigsverlies kan nie suksesvol en standhoudend wees indien die antieke werking van die brein geïgnoreer word nie. Al leef ons in moderne tye beheer die brein steeds menslike gedrag asof ons antieke wesens is wat in prehistoriese toestande leef. Vir suksesvolle gewigsverlies moet die brein geherprogrammeer word.

Die komplekse werking van die brein
Namate menslike wesens ontwikkel het, het die brein ook in kompleksiteit toegeneem sodat drie afsonderlike dele duidelik onderskei kan word, naamlik die deel wat oorlewing beheer, die emosionele en die rasionele deel. Die oorlewingsdeel van die brein beheer hartklop en asemhaling en hou ons lewend.  Die emosionele gedeelte, veral die amygdala, beskerm ons van gevaar deur die veg of vlug impuls te ontlok terwyl die rasionele deel funksies soos impulsbeheer, beplanning en besluitneming beïnvloed.

Die moderne mens word aan velerlei spanningsfaktore blootgestel soos werk, finansies, verhoudings ouerskap en vele ander verantwoordelikhede wat veroorsaak dat die streshormoon “kortisol” vrygestel word. Met die verloop van tyd veroorsaak kortisol dat die breinsynapse verminder.  Dit beïnvloed weer die rasionele gedeelte van die brein, sodat impulsbeheer verminder word.

Om die skade wat deur die streshormone veroorsaak word teen te werk dryf die emosionele deel van die brein die mens na plesier.  Wanneer plesier ervaar word, word die liggaam oorspoel met goedvoel-hormone soos dopamine, serotonien en endorfiene. Hulle bind met die breinreseptore en verminder die skadelike invloed van die streshormone.  Hoe meer stres die individu dus ervaar, hoe meer soek die brein na plesier as ‘n teenmaatreël.  Wanneer die primitiewe brein na plesier smag ryk die individu na alkohol, soetigheid en trooskos.  Hierdie reaksie is om twee redes problematies:  eerstens word gesmag na voedsels met ‘n hoë kalorie-inhoud, wat gewigstoename veroorsaak en tweedens is dit verslawend.

Onlangse navorsing en hoe om beheer te neem oor die primitiewe brein.

Die mees onlangse navorsing deur Prof Bartlett toon dat suiker neurochemiese stowwe verhoog wat met nikotien reseptore in die brein bind op dieselfde wyse as alkohol en nikotien.  Gereelde inname van suiker, alkohol en nikotien lei tot breinveranderinge, sodat meer en meer benodig word om dieselfde vlakke van plesier te ervaar.

Net soos wat die geval met alkohol en nikotien is, lei ‘n skielike vermindering in die hoeveelheid suiker wat ingeneem word tot ontrekkingsimptome en smagtings.  Om dit te oorkom moet die primitiewe brein geherprogrammeer word.  Alleenlik wanneer die rasionele brein beheer oorneem is standhoudende gewigsverlies moontlik.  Die volgende vyf stappe kan dit meebring, aldus prof Bartlett:

  • Wees simpatiek teenoor jou brein – dit is ‘n ongelooflike primitiewe orgaan wat ernstig beskadig kan word deur stress, veral gedurende die ontwikkelingsfases in die kinderjare.
  • Leer jou brein ken – om bewus te wees hoe die werking van die antieke amygdala jou gedrag beïnvloed is noodsaaklik om ongesonde impulse suksesvol te beheer.
  • Identifiseer wanneer die amygdala oorneem of wanneer jy ‘n “MiGGi” oomblik ervaar. Wees met ander woorde bedag daarop om oomblikke te identifiseer wanneer spanningsdruk jou dryf tot ongesonde trooskos, rook  of alkohol.
  • Vervang voedsel en alkohol met ‘n “MiGGi” beweging – haal diep asem, strek, hardloop of stap – enige beweging wat jou laat goed voel.
  • Verminder suiker en alkohol inname en vermeerder kardio-vaskulêre en hoë intensiteit oefening.  Dit sal help om die brein te genees van die stressverwante skade en sal ‘n sterk en gesonde liggaam bou.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1