Nuus Flitse

Die tipe peuselhappies waarvan jou kind hou word deur sy genes bepaal

‘n Nuwe studie aan die University of Guelph toon dat genes verantwoordelik kan wees vir die tipe peuselhappies waarvoor jou kind so lief is.

‘n Groot deel van die kalorieë wat voorskoolse kinders inneem is afkomstig van peuselhappies. Tog is daar min inligting beskikbaar oor die faktore wat peuselgedrag onderlê. Daarom het navorser Elie Chamoun ‘n ondersoek geloots om vas te stel of genetiese variante van die smaakreseptore, wat verband hou met ‘n voorkeur vir soet goed of vetterige kosse, of ‘n weerstand teen bitter groen blaargroentes, ‘n invloed kan uitoefen op die tipe peuselhappies wat voorskoolse kinders verkies. Hy het bevind dat ongeveer 80% van die voorskoolse kinders in die studie ten minste een van die genotipes gehad het wat hulle aan die risiko blootgestel het om swak versnapperingkeuses te maak.

Aangesien kinders baie meer peuselhappies eet as wat vroeër die geval was, is dit belangrik om vas te stel hoe genes verband hou met hul versnapperingkeuses, aangesien dit lig kan werp op die toenemende risiko van vetsug onder kinders. Hierdie navorsing kan vir die ouers insig bied in metodes om hul kinders se smake te verstaan en hul diëet aan te pas om meer voedsame keuses in te sluit.

Die dag-tot-dag diëte van ongeveer 50 voorskoolse kinders is vir die doel van hierdie studie gemonitor. Op grond daarvan is vasgestel dat ongeveer een derde van die kinders se diëte uit versnapperinge bestaan het. Terselfdertyd is die kinders se speeksel getoets sodat ‘n genetiese smaakprofiel vir elkeen opgestel kon word. Die navorsers het bevind dat kinders met ‘n soet tand, wie ook ‘n geen gehad het wat met soet voorkeure verband hou, betekenisvol meer van hul kalorieë deur suiker ingeneem het. Hulle het ook daarvan gehou om in die aand aan happies te peusel. Die kinders kon moontlik eerder in die aand peusel omdat hulle dan tuis is en dus meer geredelike toegang tot happies met ‘n hoë suikerinhoud het.

Die kinders wat geneties geprogrammeer was om eerder vetterige happies te verkies, het baie meer vetterige happies ingeneem. Mense met hierdie genetiese variant het moontlik ‘n lae orale sensitiwiteit vir vet en neem daarom meer vetterige kosse in sonder dat hulle dit besef.

Peuselappies met ‘n hoër energiewaarde, wat baie suiker en vet bevat, is ook hoër in kalorieë, in verhouding met die gewig daarvan. Dit is die tipe happies wat juis vermy moet word. Dit kan wees dat die kinders juis die gesonde groente versnapperinge vervang met ongesonde hoë kalorie happies, omdat hulle die groente happies probeer vermy.

Navorser Elie Chamoun wys daarop dat indien navorsers daarin kan slaag om ‘n sterk verband tussen genes en smaak te vind, hulle ‘n toets kan ontwikkel wat ouers kan help om te bepaal watter smaakgenes by hul kinders aanwesig is. Dit kan van onskatbare waarde wees vir ouers wat hul kind se diëet dienooreenkomstig wil aanpas. Indien ‘n kind bv geneties gepredisponeer is om van soet happies te hou, kan die ouers voorsiening maak dat daar net beperkte, of gesonders keuses van soet versnapperinge in die huis beskikbaar is.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1