Nuus Flitse

Soettand-genetiese-mutasie kom voor by mense met laer persentasie liggaamsvet

Navorsers het bevind die FGF21-geenmutasie by mense met ‘n soettand aanwesig is, en dat hulle geneig is om minder liggaamsvet te hê.  Dieselfde geenmutasie is ongelukkig ook aanwesig by mense met hoër bloeddruk.

Persone by wie die geenvariasie van FGF21 voorkom het ‘n predisposisie tot minder liggaamsvet, het navorsers aan die Universiteit van Kopenhagen bevind. Dit is ‘n verrassende bevinding, aangesien kort gelede ontdek is dat hierdie geenvariasie die rede is waarom mense soetversugtings ervaar. Mense met hierdie geen eet meer suiker as andere. Mens is geneig om intuïtief te aanvaar dat persone wat meer suiker eet, meer liggaamsvet sal hê.

Volgens die navorsers is dit egter belangrik om in gedagte te hou dat daar tydens hierdie studie net na hierdie spesifieke geenmutasie gekyk word. Dit verteenwoordig dus net ‘n klein stukkie van die legkaart wat die verband tussen suikerinname en diëet verklaar, sowel as die risiko van vetsugtigheid en diabetes.

Verder het die navorsers bevind dat hierdie geenvariasie ook met negatiewe faktore gepaard gaan: mense met die FGF21-geenmutasie is geneig tot hoër bloeddruk en om meer vet om die middellyf as om die heupe te vergader – daar word gesê dat hierdie mense ‘n appel liggaamsvorm het.

Die bevindings is gebaseer op die gesondheidsinligting van meer as 450 000 individue, wie se data in die VK Biobank gestoor is. Dit sluit onder meer bloedmonsters, vraelyste oor diëet en genetiese data in. Die feit dat die gegewens op die data van so baie mense gegrond is, verleen aan die studie besondere geloofwaardigheid. Ondanks die feit dat die verskille in die hoeveelheid liggaamsvet of die bloeddruktellings minimaal is, afhangend of die persoon daardie spesifieke geenvariasie het of nie het nie, is die navorsers oortuig dat die resultate akkuraat is. Hierdie genetiese predisposisie kom by ongeveer 20% van die Europese bevolking voor.

Kennis oor mense met ‘n genetiese soettand is belangrik vir die ontwikkeling van medikasie en toekomstige navorsing. As gevolg van die FGF21-geen se verband met suiker, kan hierdie geen van waarde wees in die behandeling van vetsug en diabetes – navorsers kyk tans of dit moontlik is om medikasie te ontwikkel wat die FGF21-geen kan teiken of vervang, om sodoende vetsug en diabetes te behandel. Die navorsing dra  tot beter begrip vir die onderliggende meganismes van die genetiese mutasie en om die effekte en newe-effekte te voorspel.- NeuroscienceNews

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1