Nuus Flitse

Ouergedrag word deur komplekse breinaktiwiteite beheer

Galanin-positiewe MPOA neurons (in rooi) en (in blou) daardie MPOA neurons wat na 'n motoriese beheersentrum van die brein projekteer. Fotokrediet: NeuroscienceNews & Dulac Lab/Howar Hughs Medical Institute /Harvard

Vir die eerste keer ooit kon ‘n span wetenskaplikes daarin slaag om die breinstroombane wat ouergedrag in muise onderlê, bloot te lê. Die navorsers het ontdek dat meer as 20 verskillende breindele geïntegreer is in die net van neurale stroombane wat hierdie gedrag te weeg bring. Trosse selle, wat duidelik onderskei kan word binne ‘n ouer-kontrole middelpunt, sneller die motiverings-, gedrags- en hormonale veranderings wat betrokke is by die versorging van die jong knaagdiere.

Komplekse sosiale gedrag soos hierdie is nog nie voorheen in sulke fyn besonderhede ontleed nie. Dit is egter nog onseker of menslike wesens en ander diere dieselfde ouerlike stroombane deel as wat by muise geïdentifiseer is. Neurone wat ander essensiële gedrag in muise beheer, is wel reeds by ander gewerweldes aangetref.

Kennis oor hoe die brein ouergedrag beheer kan dalk binnekort daartoe bydra dat wetenskaplikes maniere kan ontwikkel om moeders te help om noue bande met hul babas te vorm waar hierdie bande versteur is, soos in gevalle van postpartum depressie.

Navorsing oor die stroombane wat ouelike gedrag beheer is nie alleen belangrik oor die baie verskillende aktiwiteite wat dit koördineer nie, maar ook oor die sleutelverskille wat tussen die manlike en vroulike geslagte voorkom. Vroulike muise toon moederlike gedrag, ondanks of hulle babas van hul eie het of nie. Manlike muise, aan die ander kant, toon ouerlike gedrag net indien hul onlangs gepaar het. Normaalweg is hulle aggressief teenoor babamuise, maar drie weke nadat hulle gepaar het – ongeveer die tyd wanneer die babas gebore moet word, verander hul gedrag. Dan verdwyn hul aggressie jeens die babas en hul tree op presies dieselfde wyse as die vroulike muise op.

Ouerskap verander hierdie muise se gedrag ingrypend. Hulle bring hul tyd deur met die bou van neste, bly naby die babamuise en versorg hulle. Hulle verloor belangstelling in interaksie met ander volwasse muise en is veel meer geïnteresseerd in interaksie met die babas. Hormoonvlakke verander ook. “Ouerlike versorging” beteken in der waarheid dat geweldig baie dinge verander, veral ten opsigte van die brein se stroombane.

‘n Aantal jare gelede reeds het die navorsingspan trosse neurone ontdek wat hierdie veranderinge koördineer. Hierdie neurone is geleë in die mediale preoptiese area van die brein, en tydens die huidige studie het die navorsers konneksies vanaf en na hierdie ouerlike beheerselle nagespeur, wat almal ‘n seinmolekuul bekend as galanin bevat. Die kaarte wat die span hiervolgens opgetrek het bevestig dat die ouerlike middelpunt seine van ongeveer 20 verskillende breinareas ontvang, en dat die inligting wat so ontvang word na net soveel ander areas deurgegee word. Elke enkele galanin-produserende neuron projekteer na net een van hierdie breinareas, wat impliseer dat onderafdelings van selle verskillende funksiese hanteer. Om hierdie rolle te ontrafel het die navorsers lig-gebaseerde werktuie gebruik om die aktiwiteit van die verskillende trosse selle te manipuleer. Wanneer bepaalde stelle neurons gestimuleer is, het dit byvoorbeeld tot verhoging van die ouerlike versorging van die babas gelei – selfs by jong manlike maagde wat normaalweg glad nie hierdie instinkte toon nie. Wanneer hierdie neurons nie meer gestimuleer is nie, het die versorgingsgedrag afgeneem.

‘n Ander groep selle het seine na ‘n belangrike area van die brein se beloningsentrum gestuur. Wanneer hierdie neurone geaktiveer is het die muise ‘n dramatiese verhoging getoon in hul motivering om met die babas in interaksie te tree. Sowel die manlike as die vroulike muise het oor plastiek hindernisse geklim om die babas te bereik. Die ouerlike gedrag as sodanig is egter nie beïnvloed nie. Dit was veral duidelik tydens eksperimente met die jong maagdelike muise – hulle het oor die hindernisse geklim net om die babas aan te val.

Daar is ook bevind dat aktivering van die amygdala, wat bekend is vir sy rol in die prosessering van emosionele prosesse, die ouers se fokus op hul babas verhoog het. Wanneer die amygdala geaktiveer is het die ouers bv nie op sosiale leidrade van ander volwasse muise gereageer nie.

Selle wat seine na die deel van die hipotalamus gestuur het waar hormonale vrystelling gereguleer word, het die vrystelling van die bindingshormoon oksitosien, asook vasopressien en kortikotropien beheer.

Die span het ingrypende verskille tussen die bedrading van die ouerlike stroombaan bevind tussen manlike en vroulike muise. Verdere navorsing sal hieroor gedoen word.- NeuroscienceNews

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1