Nuus Flitse

Brein feite en mites

Gedurende die afgelope 50 jaar is daar dmv kwantitatiewe studies baie vordering gemaak om die sellulêre samestelling van die brein beter te verstaan. Nie al die konsepte wat huidiglik algemeen as feite aanvaar word, is egter korrek nie. Navorser Von Bartheld het gaan ondersoek instel na die geskiedenis en status van sommige van die mees invloedryke bevindings, om feite en mites van mekaar te probeer onderskei.

Mite 1: Breinvermoë neem noodwendig af met ouderdom aangesien die  aantal kortikale neurone in die menslike brein  beduidend verminder met die verloop van  ouderdom en ouer mense verloor derhalwe baie van hul breinkapasiteit.

Studies wat gedoen is vanaf ongeveer die 1950’s tot die 1980’s het beraam dat ongeveer 1% van die breinselle in die menslike brein per jaar verlore gaan en dat bejaardes net ongeveer 35% tot 55% van hulle piek-kapasiteit behou. Daar is gespekuleer dat dit ‘n normale proses van veroudering is wat bydra tot intellektuele verval op gevorderde leeftyd.

Dit is nou bekend dat hierdie beramings foutief was, aangesien daar nie voorsiening gemaak is vir normale breininkrimping wat met ouderdom gepaard gaan nie. Maar, ondanks inkrimping behou ouer breine meeste van hul neurone, die verspreiding is net digter.  Die huidige siening is dat net 2% tot 4% van die neurone gedurende ‘n leeftyd verlore gaan.

Mite 2:  Mans is slimmer as vroue omdat hulle in die algemeen meer neurone as vroue het. Op grond van studies gedoen tussen die 1990’s en 2000’s het navorsers geraam dat mans gemiddeld 16 % meer neurone het as vrouens.  Dit is egter nog geensins bo alle twyfel bewys nie.

Dit is ‘n bewese feit dat mans se breine meestal groter is as die van vroue. Die vraag is egter of dit noodwendig beteken dat hulle meer breinselle het? Nie noodwendig nie, want die selle kan digter verpak wees in die vroulike brein. Hopelik sal vordering op wetenskaplike gebied hierdie vraagstuk binnekort bo alle twyfel beantwoord.

Mite 3:  Chroniese alkoholmisbruik dra by tot ‘n verlies van breinkapasiteit as gevolg van die verlies aan kortikale neurone wat deur die alkohol veroorsaak word.

Alkoholmisbruik is uit die aard van die saak nadelig vir gesondheid, maar die wanpersepsie het bestaan dat breinselle letterlik vernietig word deur oormatige alkohol inname. Vandag is die siening dat alkohol die witstof beskadig wat die neurone omhul, wat wel funksionering sal inperk maar nie selle sal venieting nie. Beperkte neurale verliese kan wel in sekere kwesbare areas voorkom, soos die frontale korteks.

Die moderne siening bied aan alkoholiste en gerehabiliteerde alkoholiste ‘n meer positiewe toekomsvooruitsig. Verskeie gesaghebbende bronne is van mening dat matige gebruik van alkohol geensins seldood veroorsaak nie.

Mite 4: Gliale selle vervul bloot ‘n ondersteunende funksie. Die selle in die menslike brein kan rofweg ingedeel word in neurone en gliale selle. Tot onlangs is neurone as ver belangriker as gliale selle geag, omdat geglo is gliale selle vervul alleenlik ‘n huishoudelike of ondersteunende rol. Dit is nou egter bekend dat gliale selle ‘n direkte invloed uitoefen op inligtingsprosessering, aangesien hulle die skakeling tussen neurone beheer.

Mite 5: Die glia-neuron verhouding in die menslike brein is 10:1.  Indien in ag geneem word hoe belangrik gliale selle eintlik vir verstandelike funksionering  is, is dit ontstellend dat daar vir baie dekades lank aan hierdie wanpersepsie vasgeklou is. Dit is vandag bekend dat die verhouding ongeveer 50:50 is.

Mite 6:  Sekere neurologiese en psigiatriese afwykings gaan gepaard met ‘n afname in die hoeveelheid breinselle. Hierdie aanname is nie onbetwisbaar bewys nie. Intellektuele agteruitgang kan moontlik aan ander faktore toegeskryf word.

Moderne navorsings- en metingsmetodes het reeds baie “breinfeite” tot mite-status verlaag. Tog is daar nog vele onbeantwoorde vrae wat hopelik binne die afsienbare toekoms beantwoord sal word.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1