Navorsers aan Tilburg University het bevind dat, wanneer werknemers se persoonlikheidstrekke ooreenstem met die bepalings van hul werksbeskrywings, hulle na alle waarskynlikheid meer sal verdien.
Persoonlikheidseienskappe, en tot watter mate dit met posbeskrywing ooreenstem, is ‘n sleutelvoorspeller van belangrike uitkomste soos inkomste. Dit bevestig dat die aanname dat jy net na ‘n persoon se persoonlikheidstrekke moet kyk om sy lewensuitkomste te voorspel nie korrek nie. Dit is baie meer kompleks en omvattend. Die invloed van die omgewing speel ook ‘n baie groot rol
Sekere persoonlikheidseienskappe is oor die algemeen voordelig in die werksomgewing, soos bv pligsgetrouheid wat gewoonlik hardwerkendheid aandui, georganiseerdheid, stiptelikheid en reëlgebondenheid. Daar bestaan egter nie iets soos die “ideale persoonlikheidstipe” nie. Verskillende werkomgewings vereis verskillende persoonlikheidskenmerke, en die mate waartoe dit ooreenstem met wat die omgewing vereis, bepaal inkomste.
Vir die doel van die navorsing het die navorsers die Groot Vyf Persoonlikheidseienskappe gebruik om te bepaal tot watter mate aan die werksvereistes voldoen word. Die persoonlikheidsprofiele, jaarlikse inkomste en poste van meer as 8000 Duitse werknemers is ondersoek. Duitse mans is meer geneig om in voltydse poste te wees in Duitsland en die steekproef het derhalwe bestaan uit 68% manlike en 32% vroulike deelnemers, met ‘n gemiddelde ouderdom van ongeveer 44 jaar.
Elke deelnemer het ‘n kompakte weergawe van die Groot Vyf Persoonlikheidsvraleys voltooi, wat getoon het tot watter mate hulle aangedui het dat 15 verskillende persoonlikheidstrekke op hulle van toepassing was. Die vrae sou bv items insluit soos: “Ek sien myself as iemand met ‘n aktiewe verbeelding”.
Die Internasionale Arbeidsorganisasie se Internasionale Standaard Klassifikasie van Beroepe is gebruik om die beroepe te klassifiseer. Elke pos is daarna deur twee sielkundiges geëvalueer wat oor uitgebreide kennis van beroepsake beskik het, maar wat nie bekend was met die navorsers se hipotese nie. Hulle moes op grond van die Groot Vyf Persoonlikheidsvraelys die ideale persoonlikheidsprofiel vir elke beroep bepaal, bv ekstroversie is ‘n baie lae vereiste vir boekhouers, terwyl ‘n baie groot mate van ekstroversie by die akteursberoep vereis word. Daarna is bepaal tot watter mate elke werknemer se persoonlikheidstrekke ooreengestem het met die werksprofiele wat deur die sielkundiges ontwikkel is, en tot watter mate dit bygedra het tot hul inkomste.
Die resultate het aangedui dat ekstroversie, inskiklikheid en oopheid vir ervarings ‘n baie groot invloed uitgeoefen het. Hoe groter die korrelasie tussen hierdie drie trekke en die werksprofiele was, hoe hoër was die werknemer se inkomste.
‘n Baie interessante bevinding was egter dat te veel van ‘n goeie ding nie meer ‘n goeie ding was nie. Werknemers wat meer inskiklik, pligsgetrou of oop vir ervarings was as wat deur hul werk vereis is, het minder verdien as werknemers by wie hierdie trekke bloot in ooreenstemming met die vereistes was.
Vanuit ‘n praktiese perspektief behoort werkgewers deeglik kennis te neem van hierdie resultate aangesien dit bevestig hoe belangrik persoonlikheidsassessering in die werksplek is. Individuele werknemers, aan die ander kant, moet besef dat hul inkomste uiteindelik bepaal word deur die mate waartoe hul persoonlikheidstrekke voldoen aan die vereistes van die bepaalde werk.
Lewer kommentaar