Die groot invloed van musiek op ‘n hardloop- of oefensessie is lank reeds bekend.
Solank terug as 2012 reeds het navorsers aan Brunel Universiteit musiek gelyk gestel aan ‘n wettige prestasieverbeterende dwelm, wat moegheid teenwerk en goedvoel sensasies vrystel. Daar was in daardie stadium egter nog geen begrip vir wat presies in die brein gebeur nie.
Navorsers het nou deur middel van draagbare elektro-ensefalogram (EEG) moniteer instrumente, wat toegerus is met tegnologiese hulpmiddels om dit teen steurings te beskerm, daarin geslaag om drie tipes breingolwe tydens oefening te meet. Dit laat ruimte om nou die brein se elektriese terugvoer te kan meet terwyl mense buitenshuis oefen, hetsy met musiek of sonder musiek. Sodoende is dit nou moontlik om die breinmeganismes te ondersoek wat die invloed van musiek onderlê tydens werklike lewensgetroue oefensessies.
Die navorsers het bevind dat musiek die brein se elektriese frekwensie herrangskik, wat veroorsaak dat fokus verminder, maar dat genot met 28% verhoog word vergeleke met oefening in stilte, en met 13% vergeleke met oefening tydens die speel van ‘n “potgooi”(podcast).
Tydens die studie het 24 persone teen hul eie pas 400 m om ‘n buitenshuise atleitekbaan gestap, terwyl hulle of na ses minute van “Happy” deur Pharrell Williams geluister het, of na na ‘n potgooi van TED radio gesels-uur oor stede, of na stilte. Sielkundige skale is gebruik om te bepaal hoe goed die stappers gevoel het, waarop hulle hul aandag gefokus het, hoe wakker en energiek hulle gevoel het, of hoe moeg. Terselfdertyd is EEG metings en interpreterende sagteware gebruik om hul breingolwe op verskillende frekwensies te meet, soos laer-alpha, hoër-alpha, sensorimotoriese ritmes en betagolwe.
Musiek het wel daartoe bygedra dat die stappers se fokus verminder het, maar hul energievlakke en genot het toegeneem. Die potgooi het geen invloed op die stappers se perseptuele response, soos hoe moeg hulle gevoel het, of hul emosionele response, hoe gelukkig hulle gevoel het, uitgeoefen nie. Dit het wel daartoe bygedra dat hulle die stap meer geniet het as tydens stilte. Die navorsers het bevind dat die verskille verband hou met ‘n toename in beta frekwensies in die frontale-sentrale areas van die korteks.
Musiek beskik oor die vermoë om betagolwe te vermeerder en sodoende ‘n meer positiewe emosionele staat te skep. Daar kan tydens ander vorme van oefen van hierdie bevinding gebruik gemaak word om dit meer genotvol te maak. Veral mense wat nie daarvan hou om fisiek aktief te wees nie kan baat vind indien toepaslike musiek tydens hul oefensessies gespeel word.-NeuroscienceNews. Fotokrediet: Die navorsers
Lewer kommentaar