Nuus Flitse

Liefde met die eerste oog-op-slag? Nee, dis net begeerte!

Vroue dagdroom vir eeue reeds daaroor. Honderde Hollywood liefdesverhale beeld dit so realisties soos die ware Jakob uit. Prins Harry van Brittanje word aangehaal waar hy sê: “Die heel eerste keer toe ek haar (Megan Markle) sien, toe weet ek sy is die een”, en Megan Markle bevestig dieselfde gewaarwording! Dit is die eeue oue romantiese ideaal van liefde met die eerste oog-op-slag, en daarna ‘n lang en gelukkige lewe saam tot die dood hulle skei.

Maar wat sê wetenskaplikes hieroor? In een van die eerste studies wat hierdie fenomeen wetenskaplik ondersoek het, kom navorsers van die Univesiteit van Groningen tot die gevolgtrekking dat, alhoewel die gevoel dat mens oombliklik verlief geraak het as ‘n egte ervaring beleef word, gaan dit ongelukkig nie regtig oor die liefde nie, maar oor fisieke aantrekking, en is dit selde wederkerig! Net so word herinneringe aan liefde met die eerste-oog-op-slag eerder gekleur deur die huidige stand en passie van ‘n verhouding – dit is dus net ‘n geïdealiseerde herinnering wat op die verlede geprojekteer word.

Die resultate vir hierdie studie is verkry uit die beoordeling van net minder as 400 deelnemers aan verskeie studies, waarvan ongeveer 60% vroulik was, meestal heteroseksuele jong Hollandse en Duitse studente. Meeste van die deelnemers is deur aanlyn navorsing gewerf, waar hulle vrae beantwoord het oor verskeie potensiële romantiese maats (mense wat hulle nooit voorheen ontmoet het nie). Die deelnemers het hul aantrekking tot die persone en gevoelens van liefde, intimiteit, passie en verbintenis beoordeel, sowel as “eros” wat bepaal is deur stellings soos “Ek voel dat ek en die persoon vir mekaar bedoel is” en “Ek ervaar ‘n gevoel van liefde met die eerste oog-op-slag.” ‘n Soortgelyke proses is gevolg met deelnemers wat in ‘n laboratoriumsituasie na foto’s van potensiële romantiese maats gekyk het.

Twee ander studies het spoedafsprake geëvalueer wat oor 90 minute in een geval en 20 minute in ‘n ander geval plaasgevind het. Soos tydens die aanlyn studies het die deelnemers vrae beantwoord oor aantrekking, gevoelens van liefde en oombliklike liefde.

Twee-en-dertig deelenemers, meestal manlik, het 49 ervarings van liefde met die eerste oog-op-slag gerapporteer, hetsy ten opsigte van foto’s of ‘n spoedafspraak. Hierdie gevoelens het nie verband gehou met sterk graderings van passie of verskillende tipes liefde nie maar wel daarmee dat hul die ander persoon uiters aantreklik gevind het.

Die navorsers kom tot die gevolgrekking dat wanneer liefde met die eerste oog-op-slag gerapporteer word, dit nie liefde in die algemeen of passievolle liefde verteenwoordig nie, maar eerder ‘n sterk aanvankliklike aantrekking, meestal aangevuur deur  fisieke voorkoms. Hulle het verder bevind dat diegene wat reeds in verhoudings was en wat oombliklike liefde gerapporteer het, meestal geneig was om hul huidige passievolle verhouding op die verlede te projekteer. Vanuit ‘n wetenskaplike perspektief bestaan oombliklike liefde dus nie!

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1