‘n Nuwe studie bevestig weereens dat dit groot fisieke en emosionele voordele inhou om tyd buitenshuis te spandeer en om na aan die natuur te leef.
Samelewings waar groter blootstelling aan groen ruimtes voorkom rapporteer beter algehele gesondheid, aldus globale data wat ingewin is onder meer as 290 miljoen mense. Volgens die navorsers het hulle bevind dat tyd wat in die natuur deurgebring word sonder twyfel daartoe bydra om ons gesonder te laat voel. Die geweldige impak wat dit tov van algehele gesondheid uitoefen is tot nog toe nie ten volle begryp nie.
Die data is verkry uit 140 voormalige studies wat in 20 verskillende lande uitgevoer is, insluitend die Verenigde Koningkryk, Amerika, Spanje, Frankryk, Duitsland, Australië en Japan. Groen ruimtes is gedefiniëer as oop, onontwikkelde grond waar natuurlike plantegroei voorkom, sowel as stedelike groen areas soos parke en groen strate. Die navorsers het ondersoek hoe die gesondheid van mense met min of geen toegang tot groen areas verskil van dié wat hoe blootstelling ervaar.
Hulle het bevind dat tyd in die natuur of om naby groen stroke te leef verband gehou het met diverse en betekenisvolle gesondheidsvoordele. Dit het bygedra tot verminderde risiko vir Tipe II diabetes, kardiovaskulêre siektes, premature dood of geboorte, terwyl dit tot beter slaap gelei het en ‘n verlaging in bloeddruk, hartklop en stress veroorsaak het. Baie interessant was die bevinding dat dit bygedra het tot ‘n vermindering in vlakke van speeksel kortisol – ‘n fisiologiese aanduider van stress.
Die bevindings in besonder belangrik indien in ag geneem word dat daar wêreldwyd miljoene werksdae jaarliks verlore gaan weens stress, depressie en angs. In die VK word bv geraam dat soveel as 1.7 miljoen werksdae jaarliks as gevolg van hierdie faktore verlore gaan.
In Japan neem ‘n wyse van terapeutiese ingryping wat bekend staan as “woudbaai” (forest bathing) toe in gewildheid – dit behels dat mense tyd in ‘n woud spandeer deur bloot daar te sit of lê, of om in die woud rond te wandel. Die resultate wys dat dit waarskynlik die roete is om te volg.
Dit is egter nog nie duidelik wat presies die verband tussen groen ruimtes en goeie gesondheid onderlê nie. Dit kan moontlik toegeskryf word aan fisieke aktiwiteit en sosialisering wat in groen ruimtes plaasvind, terwyl ‘n ander moontlikheid is dat dit blootstelling bied aan verskeie voordelige bakterie wat in natuurlike areas aanwesig is en wat gesondheidsvoordele inhou. Navorsing in Japan dui daarop dat dit moonlik verband kan hou met organiese stowwe met antibakteriese eienskappe wat deur bome vrygestel word.
Volgens die navorsers is ons geneig om onmiddellik medikasie te neem wanneer ons nie goed voel nie. Blootstelling aan ‘n omgewing wat gesondheid bevoordeel word egter toenemend as ‘n beter alternatief beskou. Hopelik sal medici en ander professionele gesondheidswerkers dit onder pasiënte se aandag bring en sal dit beleidsmakers en stadsbeplanners inspireer om meer groen areas beskikbaar te stel.
Lewer kommentaar