Nuus Flitse

Serotonien ondersteun volharding

Gevorderde tegnieke word gebruik om die aktiwiteit van serotonien in die brein te beheer en om serotonien se biologiese werking te belig. Fotokrediet: Champalimaud Centre for the Unknown/Sara Matias; NeuroscienceNews.com

‘n Nuwe studie wys dat serotonien die begeerte om te volhard ondersteun. Serotonien vervul verskeie funksies in die die brein. Verskeie anti-depressante se werking is byvoorbeeld daarop gerig om serotonienvlakke in die brein te verhoog, soos onder meer die welbekende Prozak.

Daar is voorheen vasgestel dat verhoogde serotonienvlakke diere (insluitend die mens) meer gewillig maak om langer te wag vir belonings – met ander woorde, dit maak hulle geduldiger. Dit het aansluiting gevind by die algemeen aanvaarde idee dat serotonien gedrag inhibeer, aangesien geduld impliseer dat iets tot later uitgestel word.

Neurowetenskaplikes het egter nou tot die gevolgtrekking gekom dat serotonien nie net geduld ondersteun nie, maar ook aktiewe volharding met ‘n taak, selfs indien daar geen sekerheid is dat daar wel uiteindelik ‘n beloning sal wees nie.

Volharding impliseer volgehoue ywer om ‘n taak te voltooi, selfs as dit onaangenaam is, soos om huiswerk te voltooi. Dit omsluit meer as om net geduldig te wag en niks te doen nie. Vorige navorsing was nie ontwerp om die onderskeid tusssen geduld en volharding uit te wys nie. Tydens die huidige studie is egter ‘n taak opgelê baie soortgelyk aan wanneer diere kos soek.

Volgens die navorsers het dit vir hulle duidelik geword dat die inhiberende invloed van serotonien nie so algemeen was nie – sommige gedrag in nie deur die serotonien beïnvloed nie. Vorige studies het egter ook nog nooit die invloed op aktiewe gedrag getoets nie.

Die taak tydens die huidige studie was om muise die keuse van twee waterpunte te gee aan elke punt van ‘n lang reghoekige boks. Daar was altyd net by een van die twee waterpunte water beskikbaar, en die muise moes heen en weer deur die boks beweeg om water te kry, en dit is net vrygestel wanneer hulle met hul neuse teen die waterpunt gedruk het. Selfs aktiewe waterpunte het nie altyd water beskikbaar gestel nie. Gevolglik moes hulle leer om te volhard self was hulle soms nie suksesvol nie. Sodoende kon die navorsers die muise se volharding meet: hulle kon die aantal neusdrukke op aktiewe waterpunte wat geen water vrygestel het nie, tel.

Sodra die aktiwiteite opgestel en gereed was, het die navorsers ‘n tegnologie bekend as optogenetika gebruik om die vrystelling van serotonien neurone te stimuleer, wat behels het dat flitse laser lig toegedien is op optiese vesels wat in die muise se breine ingeplant is. Die navorsers het bevind dat die muise bereid was om langer met hul neuse vir water te druk sodra die neurone vrygestel is, selfs al is geen water vrygestel nie. Die serotonien het dus nie hulle gedrag geïnhibeer nie, want in daardie geval sou hulle gouer moed opgegee het. Dus het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat die aktivering van serotonien neurone aktiewe volharding gestimuleer het, eerder as blote geduld.

Volgens die navorsers kan die resultate uiteindelik bydra om beter begrip vir depressie te vestig. Alhoewel die verskil tussen geduld en volharding subtiel is, kan dit ‘n groot verskil in depressielyers se lewe te weeg bring: dit kan die verskil beteken tussen onaktief in die bed bly lê of elke dag uit die bed spring en die lewe tegemoet gaan.- NeuroscienceNews

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1