Gewigdraende beenoefeninge stuur seine na die brein wat noodsaaklik is vir die vorming van gesonde breinselle.
Navorsers het bevind dat neurologiese gesondheid net so afhanklik is van seine wat deur die liggaam se groot beenspiere na die brein gestuur word, as van voorskrifte vanaf die brein na die spiere. Dit is ‘n baanbrekende bevinding aangesien dit medikasie van die brein en senustelsel fundamenteel kan verander – dit verklaar waarom pasiënte wat aan motor-neuronsiekte, veelvuldige sklerose, spinale spieratrofie en ander neurologiese siektes ly so vinnig agteruit gaan wanneer hul beweging ingeperk word.
Die studie bevestig dat mense wat nie meer in staat is om gewigdraende oefeninge te doen nie – soos bedlêende persone of selfs ruimtereisigers op ‘n lang ruimtereis – nie alleen spiermassa verloor nie, maar dat hul liggaamschemie op sellulêre vlak verander word en dat selfs die senustelsel negatief beïnvloed word.
Tydens die studie is muise vir ‘n periode van 28 dae verhoed om hul agterbene te gebruik, maar nie die voorbene nie. Die muise het voortgegaan om soos normaal te eet en hulself te versorg en het geen stres getoon nie. Na afloop van die periode is dié deel van die brein wat verantwoordelik is vir die instandhouding van senuselle, die sub-ventrikale area, ondersoek. Dit is ook die area waar neurale stamselle nuwe neurone produseer.
As gevolg van die beperkte fisieke aktiwiteit het die aantal neurale stamselle met 70% verminder, vergeleke met die kontrole groep, wat vrylik kon beweeg. Verder het sowel die neurons as die oligodendrosiete – spesialisselle wat senuselle ondersteun en insuleer – nie ten volle ontwikkel nie.
Die studie bevestig dat gebruik van die bene, veral tydens gewigdraende oefening, seine na die brein stuur wat krities is vir die produksie van gesonde neurale selle, wat essensiëel is vir die brein en senustelsel. Wanneer fisieke oefening beperk word is dit vir die liggaam moeilik om nuwe senuselle te produseer – insluitend dié wat ons in staat stel om stres en verandering in ons lewens te hanteer.
Daar is ‘n rede waarom mense kan stap, handloop, hurk en hul beenspiere gebruik om goed op te lig – neurologiese gesondheid is nie ‘n eenrigtingstraat waar die brein die opdragte na die spiere deurgee nie. Vir gesonde funksionering moet seine ook van die spiere na die brein gestuur word.
Die navorsers het ook bevind dat wanneer fisieke oefening beperk word, minder suurstof in die liggaam beskikbaar is, wat ‘n anaerobiese omgewing skep en die metabolisme verander. Dit het ook in invloed op twee genes waarvan een, die CDK5Rap1, baie belangrik vir die mitochondria is — die sellulêre kragsentrum wat die energie vrystel wat die liggaam gebruik.
Die studie werp lig op kritiese gesondheidskwessies – vanaf die kardio-vaskulêre impak van ‘n onaktiewe lewenstyl tot verwoestende siektes soos spinale spieratrofie, veelvuldige sklerose en motor-neuronsiekte. Dit beklemtoon die uiters belangrike rol van beweging en het verskeie praktiese implikasies. Onder andere is dit belangrik dat in gedagte gehou word hoe belangrik swaartekrag en gewigdraende oefening vir menslike gesondheid is wanneer ruimtreisigers vir maande of self jare op ruimtereise gestuur word.
Lewer kommentaar