Nuus Flitse

Kinders wat weekliks vis eet presteer beter op intelligensietoetse

Kinders wat ten minste een keer per week vis eet slaap beter, en hul IK’s meet  gemiddeld 4 punte hoër as kinders wat minder gereeld of glad nie vis eet nie.

Tydens vorige navorsingstudies is reeds bevind dat omega-3 vetsure, wat in baie vissoorte voorkom, beter slaappatrone en beter kognitiewe prestasie bevorder. Navorsers aan die Universiteit van Pensylvania het nou bevind dat die beter slaap wat deur die Omega-3 veroorsaak word, die skakel is wat ook tot hoër intelligensie lei.

Die navorsers het omega-3 vetsure ondersoek wat afkomstig is uit voedselbronne eerder as aanvullings. Meer as 500 Chinese kinders tussen die ouderdomme van 9 en 11 jaar, waarvan 46% vroulik en 54% manlik was, het ‘n vraelys ingevul wat aangedui het hoe gereeld hulle die afgelope maand vis ingeneem het. Hulle het ook die Chinese weergawe van die Wechler Intelligensietoets vir kinders afgeneem.

Die ouers moes hierna die gestandaardiseerde “Children Sleep Habits Questionnaire” voltooi,  wat inligting verskaf het oor die duur en gereeldheid van slaap, slaapwandel en slaperigheid gedurende die dag. Demografiese faktore soos die ouers se kwalifikasies, beroep en huwelikstatus en die aantal kinders in die huis is in berekening gebring.

Die navorsers het bevind dat kinders wat aangedui het dat hul weekliks vis ingeneem het, 4.8 punte hoër op die IK toets behaal het as dié wat “selde” of “nooit” vis geëet het nie. Dié wie se maaltye “soms” vis ingesluit het, het 3.3 punt hoër behaal. Terselfdertyd is beter slaapkwaliteit met minder onderbrekings gerapporteer by kinders wat meer gereeld vis geëet het. Gebrekkige slaap hou verband met antisosiale gedrag, wat weer verband hou met swakker breinfunksionering.

Hierdie navorsingsbevindings kan met groot vrug toegepas word. Dit wys dat die inname van vis sterk positiewe gesondheidsvoordele inhou en dit moet wyd bekend gemaak word. Kinders behoort vanaf ‘n vroeë ouderdom gereeld vis te eet. Dit kan op so jonk as 10 maande in hul diëet opgeneem word, mits dit vry van grate en fyn gekap is. Indien kinders op ‘n baie  jong leeftyd reeds aan vis blootgestel word, sal hulle ‘n smaak daarvoor ontwikkel. Dit is baie belangrik, veral in kulture waar vis nie algemeen opgedien en geruik word nie, aangesien onbekend tot onbemind kan lei indien kinders nie vroeg daaraan blootgestel word nie.

Intussen beveel die navorsers aan dat vis geleidelik as deel van die gesin se diëet ingefaseer word. Dit sal waarskynlik baie makliker wees as om kinders te probeer dwing om vroeër te gaan slaap! Indien die vis tot beter slaap lei, is dit voordeling. Indien dit ook, soos deur die studie bevind is, tot beter kognitiewe prestasie lei, is dit ononderhandelbaar.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1