
Prestasie verhoog wanneer mens roetines in jou gedagtes oefen. Dit staan bekend as verstandelike oefening of geestelike repetering, en sielkundiges sowel as atlete is oortuig dit werk regtig. Of dit nou figuurskaats of iets meer alledaags is, jou kanse op sukses vergroot wanneer jy dit in jou gedagtes uitspeel.
Neurowetenskaplikes het nou deur middel van brein-masjien-koppelings bevestig dat die brein fisieke take leer selfs al vind dit nie in die realiteit plaas nie, maar word net in die gedagtes geoefen. Dit bring die verstand in gereedheid om die daaropvolgende handelinge perfek uit te voer.
Volgens die navorsers is geestelike repetering of verstandelik oefening ‘n baie opwindende veld, maar moeilik om te bestudeer aangesien daar geen maklike manier is om ‘n persoon se brein waar te neem terwyl hy in sy gedagtes sien hoe hy aan ‘n kompitisie deelneem, en dit wen nie. Om dit te oorkom is gebruik gemaak van brein-masjien-koppelvlakke, aangesien dit bestudering van die brein moontlik maak sonder dat werklike beweging plaasvind.
Brein-masjien-koppelvlakke word gewoonlik gebruik as prostese vir verlamde mense, maar kan ook gebruik word as ‘n werktuig waardeur die brein beter verstaan kan word. Die idee agter die navorsing is gegrond in die werkswyse waardeur gestremde mense leer om brein-masjien-koppelvlakke te gebruik om take uit te voer. Die tipiese scenario behels dat die persoon moet leer om ‘n rekenaarwyser op ‘n rekenaarskerm te beweeg deur van breinpatrone alleenlik gebruik te maak, met geen hand of ander beweging nie. Dit het die navorsers laat wonder of hierdie leerproses ooreenstem met die verstandelike oefenproses. Dit gaan uit die aard van die saak daaroor dat die persoon dink oor hoe om die wyser te gebruik, en dit veroorsaak dat hy beter word daarin. Dieselfde gebeur tydens verstandelike oefen. Die vraag was egter of die leerproses wel sou oordra wanneer die persoon tydens kompetisie werklike spierkrag moet genereer.
Die navorsers het bevind dat die leerproses wel oorgedra het na fisieke prestasie. Hulle het begin deur twee ape te leer om deur middel van brein-masjien-koppelings ‘n rekenaarwyser op die skerm te beweeg deur alleenlik van gedagtes gebruik te maak. Die beweging is hierna ietwat gekompliseer, en die ape het maklik daarby aangepas, en daardie aanpassing het ooregedra toe hulle dieselfde aksie met hul hande moes voltooi. Wat die ape dus in hul gedagtes gerepeteer het kon hulle uiteindelik met hul hande uitvoer. ‘n Analise van die breinaktiwiteite wat opgeneem is, het getoon dat die rede vir die oordrag vanaf geestelike repetering tot werklike aksie was dat geestelike repetering die breinpatrone net reg opgestel het sodat dieselfde taak maklik met die hande voltooi kon word.
Die oordragingseffek moet egter in hierdie stadium nog met omsigtigheid wyer geïnterpreteer word. Daar is verskille tussen die eksperimentele situasie en werklike geestelike repetisie, eerstens aangesien jy nie vir ‘n aap kan vra om teen ‘n berghelling af te ski soos wat jy wel vir ‘n menslike persoon kan vra nie; en tweedens omdat brein-masjien-koppeling terugvoer bied op prestasie, terwyl dit nie die geval is tydens werlike geestelike repetering nie.
Die resultate kan dus nie bo alle twyfel bewys word nie, maar bied insig in geestelike repetering, wat nie voorheen bestaan het nie. Dit maak ook die deur oop vir meer in-diepte navorsing oor die onderwerp en stel ‘n potensiele nuwe werktuig bekend wat met groot vrug vir hierdie doeleindes gebruik kan word. – NeuroScience
Lewer kommentaar