Nuus Flitse

Lewenslange gereelde oefening vertraag die ouderdom

Fotokrediet: Claude Pepper, Brainy Quote

Die ouderdomsproses blyk vertraag te word by volwasse persone wat vir die grootste gedeelte van hul lewens gereeld geoefen het. Persone wat tot op ‘n hoë ouderdom gereeld fiets gery het, het laer cholestrolvlakke gehad en hul immuunstelsels was beter ontwikkeld as dié wat nie aan gereelde oefening deelgeneem het nie.

Navorsers aan die Universiteit van Birmingham en King’s College, London, het bevind dat gereelde oefening die liggaam jonk en gesond gehou het. Die doel van die studie was om die gesondheid van ouer volwassenes, wat vir die grootste deel van hul volwasse lewens geoefen het, te analiseer, en om te bepaal of dit die ouderdomsproses vertraag het.

Een-honderd-vyf-en-twintig amateur fietsryers, tussen die ouderdom van 55 en 79 jaar, waarvan 84 manlik en 41 vroulik was, is gewerf om aan die studie deel te neem. Die manlike deelnemers moes in staat wees om 100km onder 6.5 ure te voltooi, en die vroulike deelnemers 60km in nie meer as 5.5 uur nie. Rokers, strawwe drinkers en persone wat aan hoë bloeddruk en ander siektestoestande gely het, is nie toegelaat om aan die studie deel te neem nie.

Die deelnemers is aan ‘n reeks laboratoriumtoetse onderwerp. Hulle is vergelyk met ‘n groep van 75 gesonde volwassenes, tussen die ouderdom van 57 en 80 jaar, wat nie gereeld aan oefening deelgeneem het nie, sowel as met ‘n groep van 55 gesonde jong volwassenes tussen 20 en 36 jaar.

Die resultate het gewys dat verlies van spiermassa en krag nie voorgekom het by dié groep wat gereeld geoefen het nie. Die fietsryers se liggaamsvet en cholesterolvlakke het ook nie met ouderdom toegeneem nie. Verder het die mans se testosteroonvlakke hoog gebly, wat impliseer dat hulle meeste van die manlike menopouse vrygespring het.

‘n Verrassende bevinding was dat die voordele van oefening self meer as net die behoud van spiermassa ingesluit het – ook die fietsryers se immuunstelsels het geen tekens van veroudering getoon nie. ‘n Orgaan wat bekend staan as die timus, wat immuunselle bekend as T-selle vervaardig, begin gewoonlik na die ouderdom van 20 jaar krimp en vervaardig dan minder T-selle. Bevindings in hierdie studie het egter gewys dat die fietsryers se timusse steeds soveel T-selle as dié van ’n jong persoon vervaardig het.

Gelyktydig met hierdie studie het ander bevinding aan die lig gekom wat daarop dui dat minder as helfte van persone van 65 jaar en ouer genoeg oefening doen om gesond te bly, en dat meer as helfte van persone van 65 en ouer ten minste aan twee siektetoestande ly. Luidens die navorsers het Hippocrates reeds in 400 BC gesê dat oefening die mens se beste medisyne is, maar hierdie boodskap het egter in die moderne lewe verlore geraak, en ons is ‘n sittende, onaktiewe samelewing.

‘n Baie belangrike implikasie van hierdie studie is dat ouderdom nie outomaties met verswakking gepaard gaan nie. Die resultate wys dat die oplossing vir die feit dat mense deesdae ouer word, maar nie gesonder bly nie, daarin lê om hulle aan te moedig om regdeur hul lewensgang te oefen.

Hopelik sal hierdie studie die persepsie teenwerk dat ouderdom en siektes sinonieme is wat noodwendig hand-aan-hand loop. Die resultate wys duidelik dat die fietsryers nie oefen omdat hulle gesond is nie, maar dat hulle gesond is omdat hulle vir so ‘n groot gedeelte van hul lewens reeds oefen. Hul liggame is toegelaat om optimaal oud te word, vry van die probleme wat gewoonlik deur onaktiwiteit veroorsaak word. Verwyder die oefening en hul gesondheid sal na alle waarskynlikheid agteruit gaan.

Meeste mense wat oefen het geensins die vermoëns van elite atlete nie. Hulle oefen omdat hulle dit geniet. Enige persoon kan op sy eie vlak, in lyn met sy eie fisiologiese vermoëns oefen. Dit is belangrik om ‘n oefening te vind wat jy geniet, en dit deel te maak van jou daaglikse lewe. Jare later sal jy die vrugte pluk deur ‘n onafhanlike en produktiewe ouderdom te geniet.-NeurosceinceNews

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1