Navorsingsperspektiewe verkry uit die navorsing van Prof Per Jensen, etioloog verbonde aan Linköping University, in Swede. Prof Jensen spits hom toe op navorsing oor dieregdrag, veral dié van honde.
Nadat mense en honde die ondermaanse nou reeds 15 000 jaar met mekaar deel het daar ‘n wedersydse instinktiewe begrip ontwikkel vir mekaar se emosionele uitdrukking. Mense weet watter blaf vreugde, eensaamheid of vrees beteken – honde troos mense instinktief wanneer hulle huil, en kan gesigsuitdrukkings en gebare interpreteer. Wetenskaplike navorsingstudies wys meer en meer dat mense nie bloot hul geliefde honde vermenslik nie en dat honde nie verniet so suksesvol in terapie of sosiale aanpassing gebruik kan word nie. Die kognitiewe vermoëns van honde verbaas keer op keer selfs die navorsers.
Honde en taal
Honde beskik oor ‘n ongelooflike vermoë om taal te leer – nie opdragte wat hulle dmv belonings onder die knie kry nie, maar woorde wat hulle optel tydens hul samesyn met hul eienaars. Prof Jensen wys op die geval van ‘n sielkundige in die VSA wat sy hond, Chaser, sistematies meer en meer woorde geleer het.
Hy sou ‘n objek aan Chaser wys, en dit ‘n naam gee. Daarna sou hulle vir ‘n ruk daarmee speel. More word ‘n ander objek geleer. Nadat hierdie proses vir jare volgehou is het Chaser ‘n gedokumenteerde woordeskat van meer as ‘n duisend objekte opgebou. Hy kon hulle suksesvol kategoriseer in groepe, bv speelgoed wat piep, of balle. Verder was hy in staat om hulle met werkwoorde in verband te bring en het hy die verskil geken tussen bv stoot of gaan haal iets. Veral interessant is dat Chaser se leerproses liniêr plaasgevind het – terwyl leerkapasiteit gewoonlik na ‘n tyd afplat het Chaser geen uitputting getoon nie.
Vermoë om hul wêreld te verstaan
‘n Ander bevinding wat Prof Jensen baie opgewonde gemaak het was wat hy “theory of mind” noem. Dit verwys na die vermoë om jou wêreld te verstaan – om te begryp dat ander mense ander perspektiewe as jy het, en om dan jou gedrag dienooreenkomstig aan te pas. Of ook om meer gevorderde emosionele uitdrukking te identifiseer, bv jaloesie, regverdige behandeling of skande.
Honde reageer bv net soos mense op ongeregtigheid. Eksperimente het gewys wanneer sommige honde “hande skud” en almal word beloon, is alles reg. Of as niemand beloon word nie, is dit ook reg. Maar as die hond sien ander word beloon en nie hy nie, sal hy nie meer die handeling uitvoer nie.
Honde is ook baie ingestel op dit waarop mense se aandag gevestig is. Min sal ‘n bederfie probeer steel as hulle sien iemand kyk vir hulle. Maar wanneer, in ‘n eksprerimentele situasie, navorsers voorgee dat hulle nie aandag gee nie, weet honde hulle kan ‘n kans waag.
Baie honde eienaars is van mening dat hulle honde skaam kry wanneer hulle uitgevang word dat hulle iets ongeoorloofs gedoen het. Navorsing het bevestig dat die konsentrasie streshormone in honde se bloedstroom sowel as hul polsslag, verhoog wanneer hulle besluit om die verbode bederfie te steel. Baie eienaars kan ook aan die hond se optrede sien wanneer hul hond iets verkeerds gedoen het, omdat hy skuldig lyk.
In eksperimentele situasies is bevind dat honde ‘n bederfie in ‘n boks sal uitspoeg in ruil vir ‘n lekkerder bederfie. Of dat hulle een worsie sal los wanneer hulle verstaan hulle kan dit ruil vir twee of drie. Die rekord word gehou deur ‘n herdershond wat vir ‘n volle kwartier ‘n worsie in sy mond sou hou met die sekere wete dat hy later twee gaan kry.
Areas waar honde sukkel
Daar is wel areas wat honde nie op hul eie kan begryp nie. Hulle vind dit bv moeilik om om hindernisse te beweeg, omdat hulle nie die begrip kan baasraak nie. Hulle oriëntering is besonder swak en hulle sal maklik verdwaal. Hulle kan ook nie altyd verstaan dat dinge bymekaar pas nie, of dat iets nie regdeur ‘n vaste objek kan gaan nie. Saam met mense kan hulle hierdie probleme wel maklik genoeg oplos.
Die kennis wat oor diere geakkumuleer word plaas mense egter voor ‘n morele dilemma en het implikasies oor hoe diere behandel moet word. Die frase dat hulle net diere is wat in die oomblik leef, is nie meer geldig nie. ‘n Vark verteenwoordig nie meer net ‘n varkworsie of ‘n repie spek nie. – Li.U University News and Events Features 2014 to 2016
Lewer kommentaar