Deur gebruik te maak dieremodelle het navorsers aan die Texas A&M College of Medicine and College of Veterinary Medicine & Boimedical Sciences bewys en dat een diëet beslis nie vir almal geskik is nie – wat vir een werk, werk nie noodwendig vir ‘n ander nie. Genetiese samestelling bepaal hoe die liggaam op verskillende diëte sal reageer.
Diëetriglyne word hoofsaaklik geskoei op die veronderstelling dat een diëet vir almal sal werk. Daar kon egter nog geen wetenskaplike bewyse gevind word dat alle individue dieselfde sal reageer op ‘n enekele diëet nie, soos ook bevestig word deur die vetsug-epidemie wat tans wêreldwyd ‘n probleem is.
Die huidige studie het ondersoek ingestel na die invloed wat genetiese verskille by muise uitoefen op sekere gewilde diëte. Die genetiese samestelling en geneigdheid tot metaboliese siektes van muise is soortgelyk aan dié van mense, maar navorsing met muise maak akkurate kontrole oor genetiese en omgewingsfaktore moontlik.
Vier muisstamme, wat geteël is om geneties te verskil, is gebruik om die metaboliese impak van vyf diëte te vergelyk. Die individue in bepaalde groepe het geneties feitlik geen verskille getoon nie. Tussen die groepe, egter, was die onderlinge genetiese verskille soortelyk aan dié wat by onverwante menslike wesens aangetref sou word. Die tipiese Amerikaanse eetstyl, wat ‘n hoë vet- en verfynde koolhidraad-inhoud het, is vergelyk met: die Meditirreense diëet (met koring en rooiwyn ekstrak), die Japanese diëet (met rys en groen tee ekstrak) en die Masaai/ketogeniese diëet (hoog in vet en proteïen maar laag op koolhidraad). Die vyfde groep was die kontrolegroep wat standaard kommersiële kos geëet het.
Metaboliese en epigeniese veranderinge wat met diëet verband hou is oor ‘n periode van ses maande by hierdie groepe getoets. Daar is gekontroleer vir metaboliese sindroom, wat ‘n verskeidenheid probleme wat met vetsug verband hou insluit, soos hoë bloeddruk en cholestrol, vetterige lewer en lae bloedsuiker. Gedragsveranderinge is ook gemonitor, bv verlaagde aktiwiteitsvlakke en ‘n verandering in eetlus. Veselinname en ander soortgelyke bio-aktiewe verbindings is ook getoets.
Meeste van die groepe het goedgevaar op die sogenaamde “gesonde” diete. Een van die genetiese groepe het egter baie swak gevaar op die Japanese diëet, met ‘n toename in vet in die lewer en aanduidings van lewerskade.
Twee groepe het baie swak gevaar op die ketogeniese diëet. Een groep het vetsugtig geword, en vet in die lewer en hoë kolestrol ontwikkel. Die ander se aktiwiteitsvlakke het afgeneem en hulle het ook gewig aangesit, maar hulle was steeds nie vetsugtig nie – hulle het maw op die oog gelyk of hulle ‘n gesonde gewig handhaaf maar het tog ‘n hoë persentasie liggaamsvet gehad .
Soos te wagte het die muismodelle nie goed gevaar op die Amerikaanse lewenstyl diëet nie. Van hulle het vetsugtig geword en tekens getoon van metaboliese sindroom. Ander het min veranderinge getoon behalwe vetterige lewer. Op die meditirreense diëet het sommige groepe gesond gebly terwyl ander gewig opgetel het, alhoewel minder as met die Ameriaanse diëet. ‘n Interessante bevinding was dat hierdie invloede voortgeduur het, al was die hoeveelhede deurgaans onbeperk.
Die resultate wys dat ‘n diëet wat een persoon maer maak, ‘n ander kan laat gewig optel. Daar bestaan dus nie ‘n optimum diëet wat vir almal geskik is nie. Menslike wesens is individue wat doodeenvoudig nie dieselfde reageer nie.
Die navorsers stel hulself ten doel om ‘n genetiese toets te ontwikkel wat kan wys watter diëet ‘n persoon se genetiese samestelling beste sal ondersteun. Dit le egter nog erens in die toekoms.- MedicalXpress
Lewer kommentaar