Nuus Flitse

Inkleur verminder stres en stimuleer kreatiwiteit

Nuwe navorsingsresultate wat aangebied is by die jaarlike konferensie van die Britse Sielkundige Vereniging in Nottingham, VK,  bevestig dat inkleur voordelig is vir volwassenes se geestes- en fisieke gesondheid. Dit verbeter gemoedstemming, verminder stres en gee kreatiwiteit ‘n hupstoot.

‘n Studie deur navorsers aan die University of West of England (UWE Bristol) het bewys dat inkleur volwassenes se stres verlaag en hul kreatiwiteit verhoog.

Gedurende die eerste studie is 47 eerstejaar studente, waarvan 36 vroulik was, gevra om ‘n sessie by te woon waartydens hulle sou lees en inkleur. Aan die begin van die sessie en nadat elke aktiwiteit voltooi is, is verskeie sielkundige toetse op hulle uitgevoer.

Sommige deelnemers het eers gelees, terwyl andere weer eerste ingekleur het. Hulle moes ‘n hoofstuk lees oor studiemetodes en tydens die inkleurtaak moes hulle ‘n mandala inkleur.

Nadat die deelnemers vir twintig minute ingekleur het was hulle meer tevrede, meer energiek en kalmer as nadat hulle gelees het. Hulle het ook hoër vlakke van “mindfulness” (bewustheid – om op die huidige oomblik te konsentreer) gerapporteer. Dieselfde resultate is op statisties beduidende vlak gekry ongeag of hulle eerste gelees of eerste ingekleur het.

Gedurende die tweede studie het 52 eerstejaar studente, van wie 40 vroulik was, aan dieselfde inkleur- en leesaktiwiteite deelgeneem, maar ander sielkundige toetse is op hulle uitgevoer. Die resultate was onveranderd – daar is weereens bevind dat die deelnemers kalmer was en groter bewustheid getoon het nadat hulle ingekleur het as nadat hulle gelees het, terwyl hul kreatiewe denke en visuele attensie ook verbeter het.

Volgens die navorsers het hul studie vroeëre bevindings dat inkleur tot beter gemoedstemming en kalmte lei bevestig, maar die bevindings oor groter bewustheid, en verbeterde kreatiewe denke en visuele attensie is nuut en opwindend. Inkleur kan dalk ‘n goedkoop en doeldreffende wyse wees om stres te verminder en kognitiewe funksionering te verbeter.- NeuroscienceNews

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1