Hierdie studie het vir eerste keer deur middel van elektro-ensofalografie duidelike bewyse gevind van ingrypende neurobiologiese verskille in die werking van die breine van klassieke musikante, vergeleke met jazz musikante.
Vir die algemene publiek is musikante net musikante – of hulle spesialiseer in klassieke musiek of jazz, is van geringe belang. Hulle kan enige musiekgenre bemeester. Professionele musikante se mening is egter dat dit besonder uitdagend is om tussen genres te verwissel, self al het jy reeds jare se ervaring.
Navorsers aan die Max Planck Institute for Human Cognitive and Brain Sciences het nou vasgestel dat daar ‘n neurobiologiese rede is waarom dit moeilik is om tussen genres te verwissel. Verskillende neurobiologiese prosesse vind in die breine plaas van jazz en klassieke musikante, selfs wanneer hulle dieselfde musiekstuk uitvoer.
Die verskil kan moontlik daaraan toegesrkyf word dat klassieke werke met uiterste bekwaamheid geïnterpreteer en met presisie uitgevoer moet word. Jazz, aan die ander kant, vereis improvisering en kreatiwiteit in die uitvoering. Verskillende prosedures word derhalwe in die brein vasgelê, wat wisseling tussen genres moeilik maak.
Al die deelnemende pianiste het tydens die studie ‘n hand op ‘n skerm gesien wat ‘n opeenvolging van akkoorde gespeel het. Die skermhand het egter baie harmonie- en vingerfoute gemaak, en die professionele musikante moes die hand navolg en die foute namaak terwyl hul breinaktiwiteit deur middel van elektro-ensefalografie vasgelê is.
Dertig professionele musikante is by die studie betrek, waarvan helfte vir ten minste twee jaar in jazz gespesialeer het, en die ander helfte in klassieke musiek. Ten einde enige ander invloede uit te skakel, is die ekspreriment in stilte uitgevoer, en die klavier se klank is gedoof.
Die manier waarop Jazz en klassieke musikante hul bewegings uitgevoer het, het dramaties verskil. Ondanks die styl, moet musikante eerstens weet wat hulle gaan speel – maw hulle moet weet watter sleutels hulle gaan druk. Vervolgens moet hulle weet hoe om te speel – watter vingers hulle moet gebruik. Hoe hierdie twee prosesse teen mekaar opweeg word deur die musiekgenre beïnvloed.
Die klassieke musikante het eerstens gekonsentreer op die tweede stap – die “hoe”. Hulle was primêr daarop gefokus om die musiekstuk foutloos uit te voer, met inagneming van hul persoonlike tegniek en individuele uitdrukking. Jazz musikante, aan die ander kant, het gekonsentreer op die “wat”. Hulle het daarop gefokus om te improviseer en hul styl aan te pas sodat hulle onverwagte harmonieë en crescendos kon bewerkstellig.
Die buigsaamheid in die beplanning van harmonieë reflekteer neurbiologies in jazz musikante se breine. Wanneer hulle versoek word om ‘n harmonies onverwagte akkoord binne ‘n standaard akkoordprogressie te speel, begin hul breine die handeling baie vinniger beplan as die klassieke pianiste. Gevolglik kan hulle vinniger reageer en hul uitvoering voortsit. Klassieke musikante vaar egter beter wanneer hulle ongewone vingerposisies moet gebruik. Hulle breine was meer bewus van vingerposisies en hulle het minder foute begaan in die akkoordopeenvolging.
Die studie beklemtoon weereens hoe die brein by die omgewing aanpas. Dit wys ook dat studies wat net op een musiekgenre konsentreer onvoldoende is om die volle omvang van die werking van die brein te ontleed. – NeuroscienceNews
Lewer kommentaar