Navorsing by diere het reeds gewys hoe belangrik aanraking tussen ‘n moeder en haar baba is en hoe dit gedrag op die lang duur kan beïnvloed. Navorsers wou nou vasstel tot watter mate aanraking tussen menslike babas en moeders 5 jaar na geboorte in die epigenetiese “handtekening” van die kind sigbaar sal wees.
Epigenetika is die studie van hoe biologiese meganismes inwerk om sekere genes aan of af te skakel. Sekere lewensomstandighede kan versoorsaak dat genes dormant word (afgeskakel word) of aktief bly (aangeskakel word). Epigenetika is orals om ‘n mens. Wat jy eet, waar jy bly, met wie jy in interaksie tree, wanneer jy slaap, hoe jy oefen en selfs jou ouderdom – al hierdie faktore kan chemiese veranderinge laat plaasvind wat die genes se dormante of aktiewe status kan beïnvloed. Epigenetika veroorsaak dat ons as unieke mense ontwikkel – dit bepaal waarom sommige mense blond en ander donkerder is, waarom sommiges introverte en ander ekstroverte is, waarom ons van sekere kosse hou en en nie van ander nie, ens.
Navorsers aan die University of British Columbia het oor ‘n vyf jaar periode ondersoek ingestel na die interaksie en aanraking tussen moeders en hul babas. Hulle het die ouers van 94 gesonde 5-week oue babas gevra om dagboek te hou van hul babas se gedrag (soos slaappatrone, huilerigheid, voeding, ens,) sowel as hoeveel versorging hulle gekry het wat fisieke aanraking ingesluit het. Op die ouderdom van 4 jaar en 6 maande is DNS monsters van die kinders verkry. Die navorsers het Biochemiese modifikasies ondersoek wat moontlik gemaak word deur DNS-metilering, en wat veroorsaak dat sekere genes aktief en ander dormant word. Konsekwente metileringsverskille het tussen die hoë- en die lae-kontak-kinders voorgekom. Die “epigenetiese ouderdom” van die lae-kontak-kinders was laer, vergeleke met die hoër-kontak-kinders.
Die navorsers het bevind dat die hoeveelheid aanraking tussen babas en hul versorgers die kinders op molekulêre vlak beïnvloed het. Kinders wat minder fisieke kontak as babas ervaar het, se molekulêre profiele was onderontwikkeld, vergeleke met hul ouderdomsgroep. Dit is die eerste keer ooit dat ‘n studie getoon het dat die eenvoudige handeling van aanraking vroeg in die mens se lewe potensiëel lewenslange gevolge kan inhou vir genetiese uitdrukking.
By implikasie toon die studie dat kinders wat ongelukkig was as babas, en wat minder deur hul moeders aangeraak is, biologies ‘n agterstand het. Hulle sal dus nie kan ontwikkel en floreer soos wat hulle teoreties behoort te kan doen nie. – Sciencedaily
Lewer kommentaar