
Die gesegde lui dat jy net so oud is soos wat jy voel. Nuwe navorsing wys nou dat dit wel waar kan wees wat breinouderdom aanbetref. Navorsers het bevind dat ouer mense wat jonger as hul ouderom voel groter grysstof volumes in sleutel breinareas het, minder tekens van breinveroudering toon en beter op kognitiewe toetse presteer as dié wat so oud soos hul biologiese ouderdom voel.
Almal word ouer maar nie almal ervaar dit dieselfde nie. Subjektiewe ouderdom, dit wil sê hoe oud jy voel, kan volgens navorsers ‘n weerspiëeling wees van breinouderdom – magnetiese resonansbeeling skanderings het getoon dat ouer mense wat jonger voel as hul ouderdom minder tekens van breinveroudering toon vergeleke met dié wat so oud of ouer voel as wat hulle werklik is. Die implikasie is dat ouer mense wat ouer as hul biologiese ouderdom voel aktief moet begin om aandag te skenk aan hul breingesondheid.
Mense is geneig om aan ouderdom te dink as ‘n vasgelegde proses, waartydens die brein en liggaam stelselmatig ouer word. Dit is egter ‘n feit dat die ouderdom elke individu verskillend beïnvloed. Hoe oud mense voel, hul subjektiewe ouderdom, verskil van individu tot individu – sommiges voel ouer en sommiges jonger as hul biologiese ouderdom.
Die vraag is of subjektiewe ouderdom bloot ‘n gevoel of ‘n houding is, en of dit werklik ‘n weerspiëeling is van hoe die liggaam verouder? Dr Jeanyung Chey van Seoul National University in Korea het ‘n ondersoek geloots om vas te stel waarom sommige mens ouer en sommiges jonger as hul werklike ouderdom voel. Dit kan moontlik toegeskryf word aan ‘n depressiewe toestand, persoonlikheidsverskille of fisieke gesondheid. Niemand het egter nog ondersoek of breinveroudering ‘n rol kan speel in verskille tov subjektiewe belewing van ouderdom nie.
Baie mense ervaar kognitiewe agteruitgang namate hulle ouer word – die brein toon in der waarheid verskeie ouderdomsverwante veranderinge wat ‘n weerspiëeling is van ‘n afname in neurale gesondheid, insluitend die vermindering van grysstof volumes. Moderne tegnieke stel navorsers in staat om breinkenmerke te identifiseer wat met ouderdom verband hou, om sodoende ‘n beraamde breinouderdom vas te stel.
Chey en haar kollegas het hierdie tegnieke aangewend om die verband te bepaal tussen subjektiewe ouderdom en breinveroudering. Hulle het magnetiese resonansbeelding breinskanderings gedoen op 68 gesonde individue wie se biologiese ouderdomme tussen 59 en 84 jaar gewissel het, met die doel om grysstof volumes in verskeie breinareas te meet. Die deelnemers moes ook ‘n vraelys invul wat onder meer vrae ingesluit het oor waarom hulle ouer of jonger voel as hul ouderdom. Hul kognitiewe vermoëns sowel as persepsies tov hul algehele gesondheid is ook gemeet.
Die bevindings het daarop gedui dat mense wat jonger as hul ouderdom gevoel het meer geneig was om hoër tellings te behaal tov geheue, meer positief was tov hul algehele gesondheid en minder geneig was om depressiewe simptome te ervaar. Veral belangrik is dat grysstof volumes in sleutel breinareas groter was by dié wat jonger gevoel het as hul ouderdom. Die navorsers het die magnetiese resonansbeeldingstegnieke aangewend om die deelnemers se geskatte breinouderdom te bereken.
Mense wat jonger gevoel het het die strukturele kenmerke van ‘n jonger brein weerspiëel. Hierdie verskille was beduidend selfs wanneer ander faktore, soos persoonlikheid, subjektiewe gesondheid, depressie of kognitiewe funksies uitgeskakel is.
Die navorsers spekuleer dat dié wat ouer voel meer bewus is van die proses van veroudering wat in die brein plaasvind, aangesien die verlies aan grysstof volumes veroorsaak dat kognitiewe take meer uitdagend is.
Langtermyn navorsing is egter nodig om te bepaal presies watter breinfaktore betrokke is by subjektiewe ouderdom. ‘n Interessante moontlikheid is dat dié wat jonger voel fisiek en geestelik meer aktief is, wat tot groter breingesondheid ly. Die teenoorgestelde kan natuurlik ook waar wees.
Lewer kommentaar