Nuus Flitse

Kieskeurige eters is nie vol fiemies nie, maar die slagoffers van hul genetiese samestelling

Kiekeurige eetgewoontes by kinders word waarskynlik deur hul genetiese samestelling gedryf, en kan nie bloot as fiemies afgemaak word nie.

Baie voorskoolse kinders is geneig om kieskeurige eters te wees, met die risiko dat hulle ondergewig of oorgewig kan wees of ander gastro-intestinale probleme kan ontwikkel. Verskille in smaaksensasies is al met genes in verband gebring maar of dit ook tot kieskeurige eetgewoontes kan lei, was tot nog toe onbekend. Navorsers het nou bevind dat bepaalde genes met smaaksensasies verband hou, en dat dit waarskynlik hand-aan-hand gaan met kieskeurige eetgewoontes.

Kieskeurige eetgewoontes kom baie algemeen by kinders voor. Bykans ‘n kwart van kinders jonger as twee jaar word reeds deur hul versorgers as kieskeurige eters geïdentifiseer. Verder neem die kieskeurigheid toe met elke addisionele maand wat by die kind se ouderdom gevoeg word. By sommige kinders is dit ‘n bron van kommer aangesien dit swak gesondheid in die hand kan werk. Navorsers aan die Universiteit van Illinois het daarom die afgelope tien jaar daaraan gewerk om die moontlike oorsake van kieskeurige eetgewoontes te bepaal.

Eerstens het die navorsers gemeenskaplike kenmerke by twee tot vier-jarige kinders wat kieskeurige eters is, geïdentifiseer. Op grond hiervan is die kieskeurige eters in groepe ingedeel. Hierna is ondersoek ingestel na die invloed van die ouers op hierdie gedrag, bv of hierdie gedrag net by die huis voorkom, of ook by dagsorgsentrums. Dit het die navorsing in ‘n rigting gestuur waar na die interaktiewe invloede gekyk is, eerder as die kind alleen. Dit is dus nie die kind wat net moeilik is nie, maar ‘n wisselwerking tussen die versorgers, die omgewing en oorgeërfde faktore lei uiteindelik tot die kieskeurige eetgedrag.

Die navorsing is geskoei op die orgideë-paardeblom-hipotese. Die orgideë deel van die hipotese behels dat sekere genes veroorsaak dat sommige kind meer kwesbaar. Hulle is die sensitiewe kinders wat nie negatiewe terugvoer of negatiewe etenstydstrategieë deur die versorgers kan hanteer nie. In teenstelling, is daar die paardeblom-kind, wat gehard is en weerstand bied teen dinge waarmee hulle gekonfronteer word. Dit omsluit dus meer as net die oorerwing/omgewing aspek, maar sluit ook die kind se vatbaarheid ten opsige van omgewingsleidrade in.

Inlgting is ingesamel oor die borsvoedingsgeskiedenis en kieskeurige eetgewoontes van 153 voorksoolse kinders, soos deur hul versorgers gerapporteer. Dit het onder meer ingesluit beperkte voedselvoorkeure, weiering om sekere goed te eet en ‘n stryd om beheer te neem. Speekselmonsters is ook geneem sodat DNS en genetiese samestelling van elke individu getoets kon word.

Vyf geentipes wat verband hou met smaakpersepsie is getoets. Daar is bevind dat twee van die vyf met kieskeurige eetpatrone verband gehou het – een tov diëetverskeidenheid, en die ander tov ‘n stryd om beheer tydens etenstye. Verrassend hou beide hierdie genes met “bitter smaak sensasies” verband – en mens sou dus verwag dat kinders wat geneties sensitief is vir bitter smake, waarskynlik kieskeurige eters sou wees.

Verdere navorsing is nodig om die invloed van ander chemosensoriese faktore, soos die voorkoms en geur van die kos, te ondersoek.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1