
Ouers wat vir hul babas en kleuters stories lees help hulle om vaardighede te ontwikkel wat hulle baie bevoordeel wanneer hulle vir die eerste keer skool toe gaan, het navorsers bevind
Om hardop vir jou kind te lees en verbeeldingspeletjies saam met hom te speel kan jou kind aansienlik bevoordeel wanneer hy moet skool toe gaan – dit voorkom ontwrigtende gedrag en aggressie en verbeter aandagspan.
Leestyd saam met jou kind word gewoonlik as ‘n warm, koesterende ervaring beleef – n tyd wat deur beide ouer en kind geniet word en wat liefdesbande versterk. En meer nog, storieboeke gaan dikwels oor onderwerpe wat belangrike lewenslesse vir die kind inhou en wat die kind interesseer. Dit handel gewoonlik oor karakters wat hartseer of gelukkig is en wat geleer het om uitdagende situasies te hanteer. Wanneer jy dit vir jou kind voorlees, bied jy aan hom die geleentheid om na te dink oor wat dit beteken om hierdie gevoelens te ervaar en hoe om dit te hanteer.
Verder fokus ouers en kind op dieselfde ding wanneer hulle saam lees, en dit bevorder die kind se konsentrasievermoë.
Om te wys hoe voordelig dit is om hardop vir jou kind te lees, is 675 gesinne lukraak genooi om of deel te wees van die Video Interaksie Projek, of om geobserveer te word sonder dat hulle deel van die program was
Die program is volgehou vanaf geboorte totdat die kinders drie jaar oud was. Tydens besoeke aan die pediater is gesinne op video opgeneem terwyl hulle gelees of met hul kinders gespeel het. Hierna is die video saam met ‘n mentor hersien, wat terugvoer verskaf het oor die kritiese rol van die ouers in die kind se ontwikkeling.
Die navorsers het bevind dat, wanneer die kinders agtien maande na afsluiting van die projek geëvalueer is, hulle die gedrag en konsentrasievermoë wat hulle tydens die program geleer het, steeds behou het.
Wanneer ouers hardop vir hul kinders lees en met hulle speel, kan hulle die kinders help om gedragspatrone aan te leer wat hulle baie kan bevoordeel wanneer hulle skool begin. Lees en speel en die tyd wat saam met jou kind spandeer word het ‘n groot impak op ontwikkeling en gaan bepaal hoe goed jou kind op skool gaan vaar. Terselfdertyd vrywaar dit die kind grootliks van sekere gedragsprobleme wat dikwels by kinders aangetref word. Die interaksie tussen ouer en kind ondersteun die ontwikkeling van gesonde sosialiseringsgedrag by die kind. Dit hou baie meer voordele in as wanneer die kind rekenaarspeletjies speel of televisieprogramme kyk.
Dit kan nie oorbeklemtoon word hoe belangrik hierdie spesiale tydjies tussen ouer en kind is nie, en hoeveel waarde die ineraksie en wat die kind daaruit leer tot sy ontwikkeling bydra nie. – MedicalXpress
Lewer kommentaar