
Navorsers het bevind dat persone met ‘n swak selfbeeld, wat hulself deur middel van ‘n virtuele werklikheidsimulasie verbeel het hulle is Einstein, ‘n verbetering in kognitiewe vermoëns ervaar het.
Die persepsie dat jy jouself in Albert Einstein se liggaam bevind kan help om verstandelike bronne te ontsluit wat voorheen ontoeganklik was, het ‘n nuwe studie bevind. Na afloop van ‘n Einstein virtuele realiteitservaring was die deelnemers aan hierdie studie minder geneig om ouer mense onbewustelik te stereotipeer, terwyl dié met ‘n swak selfbeeld beter op kognitiewe toetse presteer het. Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat die wyse waarop die brein die liggaam sien besonder plooibaar is. Die navorsers hoop dat die tegniek wat hulle gebruik het bruikbaar kan wees in die onderwys.
‘n Virtuele realiteitstoepassing kan die illusie skep dat jou liggaam deur ‘n virtuele liggaam vervang word, wat bekend staan as virtuele beliggaming. In sekere virtuele omgewings kan die deelnemers hierdie nuwe liggaam waarneem, asof dit in ‘n spiëel gereflekteer word, terwyl dit hulle eie bewegings perfek naboots, wat ‘n kragtige illusie skep dat die virtuele liggaam werklik hul eie is. Tydens vorige studies is bevind dat virtuele beliggaming kragtig kan inwerk op houding en gedrag. Wit mense wat bv ‘n swart virtuele liggaam aangeneem het, het minder onbewuste stereotipering (implisiete vooroordeel) van swart mense ervaar.
Tydens die huidige studie wou die navorsers vasstel of virtuele beliggaming kognisie kan beïnvloed. Wat sou die invloed wees indien ‘n persoon bv die virtuele liggaam van Albert Einstein aanneem? Sou dit hulle beter laat presteer op kognitiewe gebied as wanneer hulle ‘n onbekende virtuele liggaam sou aanneem?
Die navorsers het 30 jong manne gewerf om aan die virtuele beliggamingseksperiment deel te neem. Voordat beliggaming plaasgevind het, moes die deelnemers drie toetse voltooi: ‘n kognitiewe toets wat beplannings en probleemoplossende vaardighede getoets het; ‘n taak waardeur selfbeeld gekwantifiseer kon word; asook ‘n toets wat implisiete vooroordeel teenoor ander persone blootgelê het. Die doel van die laaste taak was om te ondersoek of die ervaring van ‘n gesimuleerde ouer liggaam houdings jeens ander persone kon verander.
Hierna het die deelnemers ‘n liggaam-sporings pak aangetrek en ‘n virtuele realiteit kopstuk opgesit. Helfte van die deelnemers het ‘n Einstein liggaam ervaar, en die ander helfte ‘n gewone volwasse liggaam. Nadat hulle tyd in hul virtuele liggaam deurgebring het, het hulle weer die kognitiewe en implisiete vooroordeeltoets voltooi.
Die navorsers het bevind dat die persone wat volgens die toetse ‘n lae selfbeeld gehad het beter op die kognitiewe taak presteer het nadat hulle die Einstein liggaam ervaar het, vergeleke met dié wat die gewone volwasse liggaam van hul eie ouderdom beleef het. Die wat die Einstein liggaam ervaar het het ook minder implisiete vooroordeel teenoor ouer mense getoon.
Vooroordeel is gegrond op die veronderstelling dat iemand anders as jyself is. Die feit dat die deelnemers aan ‘n ouer liggaam blootgestel is kon hul houdings subtiel verander het deur die onderskeid tussen oud en jonk te vervaag. Net so kon die ervaring dat hulle in die liggaam van ‘n uitermatig intelligente persoon is die deelnemers anders oor hulself laat voel het, en sodoende kognitiewe bronne ontsluit het waartoe hulle nie normaalweg toegang het nie. ‘n Belangrike punt is dat kognitiewe verbetering net by dié persone met ‘n lae selfbeeld plaasgevind het. Die navorsers spekuleer dat diegene met ‘n lae selfbeeld meeste baat gevind het omdat dit hulle anders oor hulself laat voel het en hul selfvertroue gelig het.
‘n Groter studie met meer deelnemers van beide geslagte is nodig om hierdie fenomeen verder te ondersoek. In hierdie stadium blyk dit asof die tegniek met vrug in opleiding gebruik sal kan word.
Lewer kommentaar