Nuus Flitse

Leer nuwe taal maklik aan tot op agtienjarige ouderdom

Fotokrediet: MIT & NeuroscienceNews

Navorsers het bevind dat die kritiese tydperk om taal aan te leer waarskynlik langer is as wat voorheen geglo is. Volgens ‘n nuwe studie bly kinders vaardig in die aanleer van ‘n nuwe taal tot hulle agtien jaar oud is.

Baie studies het reeds bevind dat dit moeiliker vir volwassenes is om ‘n nuwe taal aan te leer, as vir kinders. Derhalwe het wetenskaplikes tot die gevolgtrekking gekom dat daar ‘n “kritiese periode” is waartydens omstandighede baie gunstig is vir die aanleer van ‘n nuwe taal. Daar was egter nog nooit eenstemmigheid oor die lengte van hierdie periode of die onderliggende rede daarvoor nie.

‘n Nuwe studie deur MIT wys nou dat kinders baie vaardig bly in die aanleer van ‘n nuwe taal tot op sewentien- of agtienjarige ouderdom. Die bevindings wys egter ook dat dit feitlik onmoontlik is om dieselfde graad van vaardigheid as moedertaalsprekers te handhaaf, tensy voor tienjarige ouderdom begin word.

Indien jy bv Engelse grammatika op die vlak van ‘n moedertaalspreker wil aanleer, moet jy teen tienjarige ouderdom reeds begin het om die taal aan te leer. Daar is slegs geringe verskille tussen die vaardigheidsvlakke van moedertaalsprekers en persone wat vanaf geboorte tot tienjarige ouderdom begin het om die taal aan te leer, waarna ‘n afname in vaardigheid voorkom.

Persone wat tussen tien en agtien jaar begin sal steeds ‘n nuwe taal vinnig aanleer. Aangesien hulle egter ‘n korter tydperk tot hul beskikking het voordat hul leervaardighede begin afneem, bereik hulle nooit die vaardigheidsvlakke van moedertaalsprekers nie.

Die bevindings is gegrond op ‘n grammatikavraelys wat deur ongeveer 670 000 mense voltooi is, by vêrre die grootste datastel wat tot nog toe vir navorsing oor die aanleer van tale gebruik is. Volgens die navorsers was dit tot nog toe baie moeilik om groot genoeg datastelle te genereer om al die vrae te beantwoord. Hierdie was egter ‘n rare geleentheid waartydens ‘n ou vraagstuk vanuit ‘n nuwe perspektief bekyk kon word, omdat genoeg data beskikbaar was.

‘n Tendens wat dikwels gesien word wanneer families na ‘n nuwe land immigreer is dat die kinders die nuwe taal vinniger aanleer. Dit was egter moeilik om hierdie tendens in ‘n laboratorium opset te toets. Wanneer kinders en volwassenes na ‘n laboratorium geneem word, leer hulle nuwe elemente van ‘n taal, waarteen hulle dan getoets word. Onder hierdie omstandighede is bevind dat volwassenes eintlik beter gevaar het. Sulke studies boots waarskynlik nie die proses van langtermyn leer akkuraat na nie, aldus die navorsers.

Dit is moeilik en tydrowend om die aanleer van ‘n nuwe taal oor jare heen na te vors, wat die navorsers gedwing het om ‘n nuwe benadering te volg. Uittreksels is gemaak van honderde duisende mense wat in verskillende stadia was van die aanleer van Engels. Deur die grammatiese vaardighede te meet van baie mense van verskillende ouderdomme, wat op verskillende tye in hul lewens begin het om Engels te leer, kon hulle voldoende data inwin om sinvolle gevolgtrekkings te maak.

Aanvanklik het die navorsers geraam dat hulle ten minste ‘n half miljoen deelnemers aan die studie benodig het – onhaalbaar indien gewone kanale gevolg sou word. Derhalwe het hulle aan die werk gespring om ‘n grammatika vraelys te ontwikkel wat so vermaaklik sou wees dat dit viraal sou gaan op die Internet. In die vraelys is gekonsentreer op grammatikale reëls wat geneig is om nie-moedertaal sprekers te pootjie. Vrae is ook ingebou om te wys watter dialek van Engels die deelnemers praat.

Binne tien minute nadat die vraelys op Facebook opgelaai is, het die viraal gegaan. Nadat deelnemers die vraelys voltooi het, is hul gevra om hul huidige ouderdom te verskaf, sowel as die ouderdom waarop hulle begin het om Engels te leer.

Ongelukkig verklaar die navorsingsontwerp steeds nie wat veroorsaak dat die kritiese periode teen agtienjarige ouderdom ten einde loop nie. Die navorsers spekuleer dat kulturele faktore ‘n rol kan speel, maar daar kan ook veranderinge in breinplastisiteit wees wat op daardie ouderdom plaasvind.- NeuroscienceNews

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1