
Mense se onvermoë om by ‘n diëet te hou en gewig te verloor word dikwels aan ‘n gebrek aan wilskrag toegeskryf. Die waarheid is egter dat almal wilskrag het – maar, dis beperk en moet spaarsamig gebruik word!
Vorige navorsingstudies het reeds bewys dat jy elke dag ontwaak met ‘n beperkte hoeveelheid wilskrag, wat maklik uitgeput kan raak. Hoe meer jy gedurende die dag wilskrag moet gebruik om versoekings te weerstaan, hoe vinniger raak jou wilskrag uitgeput.
Die antwoord is om dit spaarsamig en wys te gebruik en dit net te gebruik wanneer dit rêrig nodig is, byvoorbeeld:
- Probeer vermy om voor elke maaltyd voedselkeuses te moet maak. Ruim eerder gedurende die naweek tyd in om jou week se etes te beplan. Sluit peuselhappies by jou beplanning in, al beteken dit dat jy kleiner maaltye moet eet om nie jou daaglikse hoeveelheid kilojoules te oorskry nie.
- Gebruik ‘n lys wanneer jy inkopies doen – en hou daarby! Moet niks ekstra in jou trollie laai nie.
Stappe soos hierdie help jou om jou blootstelling aan versoekings te verminder.
Maar wag, daar is nog meer wat jy kan doen om te verhoed dat jou wilskrag uitgeput raak:
Moet nooit maaltye of peuselhappies oorslaan nie. Studies het getoon dat mense se selfbeheer swakker is wanneer hulle bloedsuiker laag is. Vermy dus periodes van intense honger sodat jou selfbeheer sterk bly en jy nie nodig het om wilskrag te gebruik nie.
Daar bestaan ook ‘n rekenaar breinspeletjie sowel as ‘n toepassing wat jou brein kan leer om die impuls om verleidelike kosse te eet, te weerstaan. Dit staan bekend as respons inhiberingsopleiding.
Navorsers aan die University of Exeter in Engeland, het bv so ‘n toepassing ontwikkel.
Aldus die navorsers help die speletjie/toepassing om jou brein te herprogrammeer, sodat jy anders reageer tov hoë kalorie, ongesonde kosse. Daar is bv reeds bevind dat voedsel met ‘n hoë vet en suikerinhoud die brein se beloningsentra aktiveer, wat die vrystelling van dopamien en endorfiene stimuleer, sodat gevoelens van plesier ervaar word wat dan veroorsaak dat die persoon meer van daardie kosse wil hê.
Die navorsers gebruik hul kennis van hoe impulse gegenereer word om die motoriese response van die brein op kos te verander. Die wortel van die probleem word dus geteiken. Die doel is om te verhoed dat kragtige impulse ontlok word, sodat die individu nie so sterk op selfbeheer en wilskrag hoef te steun nie.
Ander metodes wat basies dieselfde doen is om jou aandag af te lei wanneer jy voor versoekings gestel word. Iets so eenvoudig soos om ‘n legkaart te bou sodra jy kosimpulse ervaar kan dit bewerkstellig.
Gebruik dus jou wilskrag wys en moenie swig voor versoekings nie. Dit kan uiteindelik dieselfde gevoel van genot bring as wat jy tans met kos assosieer.- MedicalXpress
Lewer kommentaar