Nuus Flitse

Ons kan dalk in die toekoms teen stres geimmuniseer word

Ons kan dalk in die toekoms teen stres geïmmuniseer word. Die entstof sal saamgestel word uit voordelige bakteria en sal ‘n langwerkende anti-inflammatoriese werking hê, wat mense meer bestand sal maak teen die sielkundige en fisieke uitwerking van stres.

Navorsers aan die Universiteit van Colorado, Boulder, het bevind dat inenting met voordelige bakterië ‘n langwerkende anti-inflammatoriese werking op die brein kan uitoefen, waardeur mense se vermoë om die negatiewe invloed van stres op gedrag en die fisieke liggaam teen  te werk, verhoog kan word. Hierdie bevindings kan tot die ontwikkeling van ‘n nuwe probiotiese entstof lei, wat beskerming kan bied teen posttraumatiese stressindroom, angs, of selfs tot nuwe behandelingsmetodes vir depressie kan lei.

Volgens die navorsers het hulle bevind dat die bakterium, Mycobacterium Vaccae, die breinomgewing van muise na ‘n anti-inflammatoriese toestand verander het. Indien dieselfde resultate by  mense verkry kan word, kan dit fenomenale implikasies inhou vir ‘n groot aantal neuro-inflammatoriese siektetoestande.

Soveel as een uit elke vier persone word gedurende hul lewens deur stresverwante toestande, soos angs, posttraumatiese stressindroom en ander geestesongesteldhede, beïnvloed.  Navorsings wys toenemend dat die risiko vir hierdie toestande vergroot kan word deur breininflammasie wat deur stres veroorsaak word, onder andere omdat dit impakteer op neurotransmitters wat die gemoedstoestand beïnvloed, soos norepinefrien of dopamien.

In die literatuur is baie voorbeelde wat bewys dat, wanneer ‘n inflammatoriese staat by mense veroorsaak word, dit tot depressie en angs aanleiding gee. Navorsing wys ook dat trauma, siekte of chirurgie sekere dele van die brein kan sensiteer, wat tot deteriorasie van die gemoedstoestand en kognisie kan lei. Hulle het bevind dat Mycobacterium Vaccae hierdie sensiterings-effek geblokkeer het, en ‘n blywende stresweerstandige fenotipe in die brein gevorm het.

Manlike rotte wat met tussenposes van een week drie keer met die bakterium ingespuit is, het agt dae na die laaste inspuiting betekenisvol hoër vlakke van die anti-inflammatorise proteïen interleukin-4 in die hipokampus gehad – dit is dié breinarea wat die kognitiewe funksie, angs en vrees beheer.

Nadat hulle aan ‘n stressor blootgestel is het die ingeënte knaagdiere steeds laer vlakke van die stres-geïnduseerde proteïen HMGB1 gehad, wat ‘n rol  speel in sensitering van die brein vir inflammasie. Die geïmmuniseerde rotte het ook minder angs getoon nadat hulle die stres ervaar het.

Die navorsers droom van ‘n dag dat M.vaccae aan mense toegedien kan word wat hoë risikogevalle vir Posttraumatiese Stressindroom is – soos soldate wat ontplooi moet word of nooddienswerkers. Vir eers moet daar egter nog verdere navorsing gedoen word.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1