Nuus Flitse

Breinaktiwiteit wanneer rustend gee aanduiding van intelligensie

Fotokrediet: UNSW News Release/NeuroscienceNews

Navorsers het bevind dat die vlak van breinaktiwiteit wanneer ‘n persoon rustend is verband hou met hoe goed die persoon op kognitiewe toetse sal presteer.

Die vermoë van volwasse persone om te leer en goed te presteer op toetse vir taal herroeping en vir uitvoerende funksies waar geheue belangrik is, hou direk verband met hoe aktief die brein tydens rustende periodes is, met ander woorde wanneer die persoon nie met ‘n spesifieke taak besig is nie.

Die navorsers het magnetiese resonansbeelding gebruik om die breine van 67 verstandelik gesonde individue, tussen die ouderdomme van 73 en 90 jaar, te toets. Aktiwiteitsvlakke is tydens rustende periodes bepaal vir die brein in geheel, wanneer die persone nie aan enigiets besonders gedink het nie, en hul oë toe was. Hul prestasie op drie verskillende neuro-sielkundige toetse, wat deur opgeleide sielkunde graduandi afgeneem is, is ook getoets.

Die navorsers het bevind dat die menlike brein voorafbepaalde aanduidings gebied het van of die persone goed of swak sou presteer. Breinaktiwiteit tydens ‘n rustende staat verskil van mens tot mens en dit is beslis nie ‘n gelyke speelveld nie. Breinaktiwiteit in bepaalde breinnetwerke tydens rustende periodes kon as voorspeller gebruik word of ‘n persoon beter of swakker as ‘n ander sou presteer op take wat deur daardie netwerk beheer is.

Tydens vorige studies is op bepaalde breinareas gekonsentreer. Tydens die huidige studie,  egter, is van 3D “voxel” beelde van die brein in geheel, gebruik gemaak. Dit is minder beperkend as tydens vorige studies en bied dus meer omvattende resultate.

Die resultate het getoon dat ‘n persoon se prestasie op die taal en uitvoerende toetse verband gehou het met funksionele gekonnekteerdheid in die frontale en temporale kortekse, gedurende ‘n rustende staat. Vir prestasie op geheue herroeping, moes daar aktiwiteit plaasvind in die inferieure temporale kortekse.

Die volgende fase van hierdie navorsing sal wees om te bepaal of rustende breinaktiwiteit deur bepaalde opleiding verbeter kan word. Daar bestaan ‘n moontlikheid dat opleiding die brein se intrinsieke netwerke kan stimuleer, waardeur verstandelike prestasie verbeter kan word en kognitiewe agteruitgang moontlik gestuit kan word.- NeuroscienceNews

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1