
Wetenskaplikes het bewys dat die menslike visuele stelsel die vermoë het om objekte waar te neem buite die grense van ons visuele veld.
In ons drie-dimensionele wêreld is ruimtelike waarneming van die omgewing, ook buite ons visuele veld, noodsaaklik om beweging te koördineer en te lei. Dit wil voorkom of die visuele stelsel genoeg inligting beskikbaar stel om beweging suksesvol uit te voer, ongeag die feit dat ons visuele veld beperk is tot die frontale area. Hierdie teorie is nou vir die eerste keer wetenskaplik getoets deur die Navorsingsinstituut vir Elektriese Kommunikasie aan Tohoku Universiteit, Japan.
‘n Eksperiment is ontwerp om deur middel van ‘n visuele soektog te demonstreer dat die menslike visuele stelsel die vermoë het om dinge waar te neem buite die visuele veld. Hierdie vermoë maak baie gewone alledaagse aktiwiteite moontlik asook sommige sport akwiteite, om ‘n motor te bestuur, ens. Die navorsingspan het ‘n vertoonpaneel ontwerp bestaande uit 6 panele wat ‘n area van 360% rondom deelnemers gedek het. Ses letters het gelyktydig op elke paneel verskyn.
Deelnemers aan die studie is gevra om ‘n sekere letter op te spoor terwyl die tyd dit hulle geneem het gemeet is. Nadat die deelnemers herhaaldelik aan dieselfde ruimtelike uitleg rondom hulle blootgestel is, het hul tye verbeter, al het hulle nie geweet van die herhaling nie. Dit het gebeur selfs wanneer die teikenobjekte agter die deelnemers was, wat bewys dat visuele prosessering nie beperk is tot die visuele veld nie, maar ‘n wyer area rondom die deelnemers beslaan.
Die resultate het bevestig dat ‘n uitbeelding van die omgewing in die brein vasgevang word, wat gebruik kan word om terug te kyk sonder dat enige beweging nodig is, waarskynlik om sodoende doeltreffende en gladde beweging moontlik te maak. Die brein konstrueer dus ‘n wêreld wat 360 grade beslaan, al is ons meestal net bewus van die area voor ons.
Dit is die eerste keer dat hierdie ruimtelike vermoë wetenskaplik bewys is, en dit is ‘n belangrike stap om die breinfunksie wat persepsie en beweging skakel beter te verstaan.
Lewer kommentaar