
‘n Nuwe studie wys dat ‘n goeie postuur – om regop te sit en nie vooroor gedoë te loop nie – wiskunde punte kan verbeter. Volgens die navorsers dui ‘n vooroorgedoë postuur op ‘n verdedigende houding, wat ou negatiewe ervarings en assosiasies weer in die herinnering kan terug roep.
Navorsers aan die San Francisco State University het 125 studente getoets om te bepaal hoe goed hulle in eenvoudige wiskunde kan vaar – om bv 7 van 843 af te trek binne 15 sekondes – wanneer hulle regop en ontspanne gesit het, met die skouers terug, of ‘n vooroorgedoë houding gehandhaaf het. Meer as vyftig persent van die studente het beter presteer wanneer hulle regop en onspanne gesit het.
Aldus die navorsers oefen postuur en houding ‘n geweldige groot invloed uit wanneer mense angstig voel oor hul wiskundige vermoëns. ‘n Vooroorgedoë houding sluit hulle af – hul breine funksioneer dan minder doeltreffend en hulle vind dit moeilik om helder te dink.
Die studente moes voor die aanvang van die eksperiment ‘n anonieme vraelys voltooi waartydens hulle hul angsvlakke moes aandui wanneer van hulle verwag is om wiskundige verwerkings te doen. Hulle moes ook enige fisieke ongemak of stres simptome aandui wat hulle geneig is om tydens toetse te ervaar.
Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat ‘n vooroorgedoë postuur aanduidend is van ‘n verdedigende houding, wat ou negatiewe herinneringe in die brein en in die liggaam kan wakker maak. Dit word bevestig daardeur dat studente wat minder angstig was oor wiskunde, nie soveel baat gevind het by ‘n beter postuur nie. Hulle het dit egter ook moeiliker gevind om wiskunde te doen wanneer hulle nie ‘n regop postuur gehandhaaf het nie.
Die navorsers is van mening dat hierdie bevindings ook van waarde kan wees ten opsigte van ander aktiwiteite wat onder stres voltooi moet word, en nie net wiskunde nie. Atlete, musikante en openbare sprekers kan almal baat by ‘n beter postuur voor en tydens hul optrede.
Die bevindings kan veral waardevol wees wanneer “stereotipe bedreiging” ervaar word – angs en onsekerheid by baie ander persone, wat dan as die norm aanvaar en geïnternaliseer word. Die algemene persepsie by leerlinge en studente is dat Wiskunde baie moeilik is, en gevrees behoort te word. Dit veroorsaak ‘n negatiewe ingesteldheid wat regdeur ‘n persoon se skoolloopbaan en naskoolse studie prestasie in hierdie vakgebied negatief kan beïnvloed, en hom uiteindelik kan verhoed om in hierdie rigting te studeer. ‘n Postuur wat selfvertroue weerspiëel kan baie studente wat weens stereotipe angs nie die veld van die wiskunde en wetenskap wil betree nie, help om hul vrese te oorkom.
Lewer kommentaar