
Om hande vas te hou veroorsaak dat breingolwe sinchroniseer en dit het ‘n pynverdowende uitwerking.
Navorsers aan die Universiteit van Colorado Boulder en die Universiteit van Haifa het bevind dat wanneer jy ‘n geliefde se hand vashou, dit veroorsaak dat jul asemhaling, hartklop en breingolwe sinchroniseer. Hoe meer gesinchroniseerd die breingolwe van die twee persone is, hoe minder pyn sal die persoon ervaar. En daar is meer: hoe meer empatie ‘n vertroostende metgesel voel, hoe meer sal die breingolwe sinchroniseer en hoe minder pyn sal die persoon beleef.
In die moderne lewe is daar baie maniere van kommunikasie beskikbaar, met die gevolg dat fisieke interaksie verminder. Hierdie studie bevestig egter weer hoe geweldig belangrik menslike aanraking is.
Verskeie studies het die afgelope tyd die fenomeen van interpersoonlike sinchronisasie ondersoek – die verskynsel dat ‘n mens die persoon saam met wie jy is fisiologies kan reflekteer. Hierdie is egter die eerste studie wat ondersoek hoe sinchronisasie van breingolwe pyn verdoof.
Dit bevestig dat brein-tot-brein skakeling tydens aanraking tussen twee persone ‘n analgetiese uitwerking kan hê, en staan ook as “genesende aanraking” bekend. Die gedagte van die studie het by die hoofouteur, Pavel Goldstein, posgevat toe hy tydens die geboorte van sy dogter besef het dat sy vrou minder pyn ervaar het wanneer hy haar hand vasgehou het. Hy wou in die laboratorium bevestig dat aanraking wel pyn sal verdoof, en vasstel hoekom dit gebeur.
Twee-en-twintig heteroseksuele paartjies wat vir ten minste een jaar saam was, en wie se ouderdomme tussen 23 en 32 jaar gewissel het, is vir die doel van die studie gewerf. Hulle is deur verskeie twee-minuut scenarios begelei, terwyl hul breinaktiwiteit deur middel van elektro-ensefalogafiese metodes gemeet is. Die scenarios het ingesluit dat hulle bymekaar gesit het terwyl hulle hande vashou, of terwyl hulle nie aan mekaar geraak het, of dat hulle in verskillende vertrekke gesit het. Dan is die scenarios herhaal terwyl die vroue aan ligte hittepyn op hul arms blootgestel is.
Om teenwoordig te wees in mekaar se geselskap, met of sonder aanraking, het reeds ‘n mate van brein sinchronisasie veroorsaak in die alpha mu band, ‘n frekwensie wat verband hou met gefokusde aandag. Indien hulle ook hande vasgehou het terwyl die pyn toegedien is, het die sinchronisering maksimaal toegeneem. Wanneer hulle tydens die toediening van pyn saam was, maar hy kon nie aan haar raak nie, het die sinchronisering van breingolwe afgeneem. Hierdie bevinding het ooreengestem met vorige bevindings wat getoon het dat sinchronisasie van hartklop en asemhaling verminder het indien daar geen aanraking was nie.
Dit blyk dat pyn die interpersoonlike sinchronisasie tussen twee persone totaal verbreek, en dat aanraking dit herstel. Verdere toetse op die manlike vennoot se vlakke van empatie het getoon dat, hoe meer empaties hy was, hoe meer het hul breinaktiwiteit gesinchroniseer en hoe minder pyn het sy ervaar.
Meer navorsing is nodig om die spesifieke redes vir die vermindering van pyn te bepaal. Die navorsers spekuleer egter dat die aanraking die persoon kan laat voel dat sy verstaan word, wat pynverdowende beloningsnetwerke in die brein kan aktiveer.
Lewer kommentaar