Nuus Flitse

Rissies brand nie!! Dis reg ja, rissies is nie warm nie….

chillie in mouthDie gevoel is tog so bekend! Kort na ‘n happie aan ‘n klein rooi rissie wat tog so onskuldig en skadeloos lyk,  voel dit asof jou mond aan die brand is, asof verwoede vlamme besig is om elke kleinste hoekie van jou wange, tong en lippe te verteer!  Die vraag is nou:  is rissies regtig warm?

Is rissies warm?

Capsaicin is die aktiewe bestanddeel in rissies wat die brandsensasie veroorsaak in jou mond, of op enige ander plek waar dit met liggaamsweefsel in aanraking kom (om nie eers te praat van die tweede brand, nadat dit deur jou spysverteringstelsel beweeg het nie!!)  Capsaicin is ‘n reukvrye en kleurlose olierige chemiese stof wat hoofsaaklik rondom die vesels en pitte van rissies gekonsentreer is.

Capsaicin brand nie!  Dis reg ja, rissies is nie warm nie! In elk geval, nie vanuit ‘n termiese perspektief nie.  Dit is bloot jou wonderlike brein wat jou mislei deur jou deur middel van jou sintuie te oortuig dat dit warm is, terwyl daar in werklikheid geen ware brand plaasvind nie. Blootstelling aan baie hoë dosisse capsaicin kan die liggaam tot so ‘n mate flous dat dit inlfammasie veroorsaak, wat dit laat lyk asof  die liggaam wel gebrand het, terwyl dit glad nie die geval is nie.

Hoekom voel dit of rissies brand?

chillie_heart_flameDie capsaicin in rissies of ander warm kosse verbind aan TRPV1 reseptore wat in jou mond en ander liggaamsweefsel voorkom (ook natuurlik in die baie sensitiewe weefsel van die liggaamsdele waar jy die tweede brand ervaar!  Eina!!)  TRPV1 reseptore is pynverklikkers wat jou onder andere bewus maak van warm stowwe waarmee jy in aanraking kan kom, soos kookwater of kokende warm kos (bo 109 °F), wat die weefsel kan beskadig.  Wanneer die capsaicin verbind met die TRPV1 reseptore, word ‘n boodskap na die brein gestuur dat jou liggaamsweefsel met stowwe in aanraking is wat nadelig vir jou kan wees.

Die capsaicin word as pyn beleef, wat veroorsaak dat die brein chemiese seine na die liggaam stuur om so gou as moontlik van die stowwe ontslae te raak.  Gevolglik slaan sweet oral op die liggaam uit, die neus begin loop, die oë traan en jy soek naarstiglik na iets kouds om te drink. Die liggaam doen alles wat hy kan om so vinnig as moontlik van die stowwe ontlae te raak, of om ten minste die brandpyn draagliker te maak.  Hoe sterker die rissie, hoe groter is die hoeveelheid capsaicin wat  met die TRPV1 reseptors kan verbind, en hoe meer intens sal die brandreaksie wees.

Kan jy verligting vind?

Hoe kan jy verligting kry? Die antwoord is deur melk te drink. Die rede waarom melk die onuithoudbare brand verlig, terwyl water die brand net verder deur jou mond versprei, is omdat die capsaicin in die melk oplos, wat verligting bring. Suiwelprodukte bevat verder ook kaseïn, wat die capsaicin-molekules soos ‘n magneet aantrek.  Dus sal melk of roomys aktief werk om die capsaicin molekules van jou tong af te trek, en dit dan op te los.

Waarom hou mense dan aan om rissies te eet?

Die volgende vraag is natuurlik waarom baie mense hulself herhaaldelik aan die pynigende brand blootstel, en soms selfs ‘n versugting na sterker variante van rissies ontwikkel? Die antwoord lê nogmaals in die ongelooflike menslike brein, wat in reaksie op die pynboodskap ‘n stof bekend as endorfiene vrystel.  Die vrystelling van endorfiene is die liggaam se natuurlike reaksie om pyn teen te werk.  Tesame met die endorfiene word dopamien ook vrygestel, wat ‘n gevoel van euforie veroorsaak. Sommige mense raak dus verslaaf aan rissies vanweë die gevoel van welbehaaglikheid wat dit meebring. Hoe meer capsaicin ‘n mens inneem, hoe meer weerstandig sal jou liggaam egter daarteen raak, met die gevolg dat jy die brand minder intens sal beleef, en minder dopamiene vrygestel sal word.   ‘n Smagting na sterker en sterker rissie-variante ontwikkel dus by sommige mense, sodat hulle steeds die gevoel van euforie kan ervaar.

Die Schoville skaal

Glo dit of nie, ‘n skaal is selfs ontwikkel om die warmte faktor van rissies te meet, die sogenaamde Schoville Organoleptiese Skaal. Die Schoville skaal meet in veelvoude van 100 eenhede, wat verwys na die hoeveelheid suikerwater wat nodig is om die rissies te verdun tot ‘n vlak waar die brein nie meer die brand registreer nie.  Voorbeelde van verskillende rissies op die Schoville skaal is as volg:

 

RISSIE EENHEDE
Soetrissie 0
Jalapeno 1 000 – 4 000
Red Savina Habanero 350 000 – 580 000
Bhut Jolokia (Ghost Pepper) 855 000 – 2 199 999
Carolina Reaper 1 600 000 – 2 200 000

 

 

 

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1