Nuus Flitse

Om sosiaal te drink maak jou gelukkiger

Sosiale drinkers is gelukkiger en ervaar meer lewenstevredenheid, waarskynlik omdat dit hulle sosiale interaksie en samehorigheid verbeter en hulle sodoende sosiaal beter inpas.

Die inname van alkohol dateer ten minste 7000 jaar terug.  Daar is al baie geskryf oor die gevare en negatiewe invloed van alkoholmisbruik, maar min navorsing is nog gedoen oor waarom die gewoonte die toets van tyd nou al soveel jare deurstaan.  Dit word algemeen aanvaar dat dit gaan oor die genot en vermindering van stres en angs wat die inname van alkohol meebring.

Navorsers spekuleer nou egter dat dit eerder oor die sosiale voordele gaan aangesien alkohol inhibisies verminder en die afskei van endorfiene aktiveer. Endorfiene is baie belangrik vir die vorming van sosiale bande. Dit laat mense ontspan en hou die immuunstelsel gesond.

Alkohol beïnvloed verder mense se sosiale en kognitiewe vaardighede wat hulle dan in staat stel om meer doeltreffend in sosiale situasies op te tree. Dit verhoog gevoelens van lewenstevredenheid en dra direk of indirek daartoe by om sterk sosiale bande te vorm, wat die grondslag vorm van sosiale ondersteuningsnetwerke. Sosiale ondersteuningsnetwerke dien as die belangrikste buffer om mense teen geestesongesteldhede te beskerm.

Navorsers aan die Universiteit van Oxford het ondersoek of mense se sosiale ervarings en welstand beïnvloed word deur die gereeldheid waarmee hulle alkohol inneem en die tipe plekke waar hulle drink.  Hulle het hul resultate verkry deur drie afsonderlike studies: ’n vraelys aan kliënte in kroeë, waarmening van gespreksgedrag in kroeë en ’n nasionale opname by die Campaign for Real Ale.  Drie groepe deelnemers is onderskei: gereelde drinkers by ’n spesifieke plaaslike kroeg; meer informele drinkers wat nie ’n gereëlde drinkplek gehad het nie; en persone wat glad nie gedrink het nie.

Die navorsingsresultate het getoon dat die gereelde drinkers beter sosiaal ingepas het, meer lewenstevredeheid ervaar het en meer vertroue in hul gemeenskap gehad het. Die informele drinkers het sosiaal beter ingepas as die nie-drinkers maar hul ondersteuningnetwerke was heelwat kleiner as dié van die gereelde drinkers en hulle het sosiaal nie so goed ingepas nie en minder vertroue in hul gemeenskap gehad.

Die navorsers gee toe dat die resultate moontlik ook aan persoonlikheidsverskille toegeskryf kan word, wat nie as ’n veranderlike in hierdie studie gemeet is nie.  Ekstraverte sal bv. geneig wees om groter sosiale ondersteuningsnetwerke te hê as introverte. Tog glo hulle dat persoonlikheidsverskille net ’n aanvullende kriteria sal wees en dat die navorsingsresultate nie wesenlik sal verander indien dit in berekening gebring word nie.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1