Nuus Flitse

Dagga belemmer bloedvloei na die brein

Marijuana belemmer bloedvloei na die brein, wat geheue en redeneringsvermoë negatief beïnvloed.

Brein skandering van 1 000 persone wat tans of vroeër marijuana gebruik het, het abnormale lae bloedtoevloei na die brein getoon in vergelyking met 92 persone wat dit nog nooit gebruik het nie.

Volgens studieleier Dr. Daniel Amen, psigiater en stigter van die Amen Klinieke in die Verenigde State, was die verskil verrassend. Feitlik alle breinareas wat gemeet is het laer bloedvloei en aktiwiteit getoon by die marijuana-gebruikers as by die nie-gebruikers. Die laagste bloedvoorsiening is gevind in die hippokampus van die daggagebruikers, wat beskou kan word as die sentrum van geheue en waar herinnerings in die langtermyngeheue opgeneem word.

Die data is ingesamel by nege buitepasiënt neuropsigiatriese klinieke regoor die Verenigde State, waar pasiënte behandeling ontvang het vir komplekse sielkundige of neurologiese probleme. Die navorsers het 982 pasiënte geïdentifiseer wat met kannabismisbruik-versteuring gediagnoseer is – hulle misbruik van dagga was so hewig dat dit hul werk, gesinslewe en gesondheid benadeel het. Die navorsers kon op grond van bloedtoevloei na die hippokampus akkuraat voorspel of ‘n persoon dagga gebruik het of nie.
Nie-rokers het dieselfde negatiewe simptome ervaar wanneer hulle marijuana in tablet-formaat of as koekies ingeneem het. Volgehoue ontoereikende bloedvloei kan uiteindelik selle enige plek in die liggaam beskadig en vernietig. Die brein is veral kwesbaar aangesien dit een van die rykste netwerke van bloedvate het. Die bloedvate voorsien voedingstowwe aan die brein en neem afvalstowwe weg en is krities vir normale kognitiewe funksionering.

Teen die agtergrond van die huidige klimaat waar stemme sterker en sterker opgaan vir die wettiging van marijuana werp hierdie studie nogmaals sterk twyfel oor die raadsaamheid daarvan. Dit dien egter gemeld te word dat die marijuana-gebruikers in hierdie studie almal psigiatriese probleme ook ervaar het, wat die resultate kon beïnvloed.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1