Nuus Flitse

Kinders uit onbeplande swangerskappe ervaar meer depressie simptome tydens jong volwassenheid

Kinders uit onbeplande swangerskappe ervaar meer depressiesimptome tydens jong volwassenheid, in vergelyking met dié uit beplande swangerskappe. Tog is min bewyse gevind dat ‘n direkte verband bestaan tussen tussen onbeplande swangerskappe en depressie.

Dit is ‘n voldonge feit dat kinders uit onbeplande swangerskappe tot ‘n groter mate depressiesimptome ervaar, as dié afkomstig uit beplande swangerskappe. Dit kan egter waarskynlik eerder aan sosio-ekonomiese omstandighede as ander faktore toegeksryf word.

Die moeders is in baie gevalle afkomstig uit swak sosio-ekonomiese omstandighede met gebrekkige toegang tot hulpbronne en dienste. Dit bevestig weereens hoe belangrik die gesinsomgewing is in die kind se ontwikkeling sowel as die belang van sosiale hulpbronne gedurende die kind se ontwikkelingsgang.

Die geweldige hoë vlak van onbeplande swangerskappe in Suid-Afrika is ‘n groot bron van kommer. Die Departement van Gesondheid het in 1998 bevind dat 35% van jong Suid-Afrikaners op 19 jarige ouderdom reeds geboorte geskenk het. Daar word tans geraam dat daardie syfer intussen reeds bykans verdubbel het. ‘n Studie oor voorbehoedmiddels het ook aan die lig gebring dat 65% van alle swangerskappe van Suid-Afrikaanse jeugdiges tussen 15 en 24 jarige ouderdom, voorhuweliks en onbepland is.

Persone afkomstig uit agtergeblewe gemeenskappe is baie meer geneig tot onbeplande swangerskappe. Dit gaan dikwels gepaard met swakker gesondheid en ontwikkeling van die babas wat uit hierdie swangerskappe gebore word. Die moeders kan in baie gevalle nie voorgeboortelike sorg bekostig nie en bevind hulself in onbevredigende ouer-kind verhoudings. Dit is dus ‘n langtermyn sosiale probleem wat ‘n invloed uitoefen wanneer die kinders volwassenheid bereik.

Daar bestaan twee vorige studies wat ondersoek het hoe kinders uit onbeplande swangerskappe in volwassenheid vaar. Beide is sowat 50 jaar gelede uitgevoer en het gebruik gemaak van wit ouers, die bevolkingsegment waaar onbeplande swangerskappe minder algemeen voorkom. Die huidige studie is uitgevoer deur Jessica Su, assistent professor aan die Departement Sosiologie, Buffalo Universiteit. Tydens hierdie studie is gebruik gemaak van data verkry uit die “Nasional Longitudinal Survey of Youth” van die VSA se Nasionale Departement van Arbeid, wat reeds gedurende die 1970’s begin het.  Die opname bevat onder meer inlgiting oor die moeder se agtergrond voor sy swanger geraak het, ‘n kritiese punt wanneer die ouer-kind verhouding ondersoek word.

Alhoewel geen direkte verband gevind is nie, is dit duidelik dat  kinders wat uit onbeplande swangerskappe gebore word, negatief beïnvloed word. Die negatiewe invloed strek baie verder as net die status van ‘gebore uit ‘n onbeplande swangerskap’ – dit omsluit die reeds genoemde bydraende faktore soos sosiale omstandighede, beskikbare hulpbronne, en ouer-kind-verhoudings, om maar ‘n paar te noem. Die negatiewe invloed kan alleenlik uitgeskakel word wanneer al hierdie faktore aangespreek word. Die ideaal is natuurlik om onbeplande swangerskappe tot ‘n minimum te beperk – veral waar baie jong moeders betrokke is.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1