Nuus Flitse

Kan jou persoonlikheid verander?

Mense is geneig om te glo dat persoonlikheid ‘n vaste entiteit is wat regdeur jou lewe onveranderd bly. As jy ‘n introvert gebore is, sal jy as een sterf, en as jy ‘n ekstrovert gebore is, bly jy dit tot die einde van jou lewe. Navorsers het egter bevind dat dit nie die geval is nie – terapeutiese ingryping kan persoonlikheidstrekke binne ‘n relatief kort periode verander.

‘n Meta-analise van 207 navorsingstudies wat vanaf 1959 tot 2013 uitgevoer is het getoon dat net ‘n paar weke van psigoterapeutiese ingryping betekenisvolle en langdurige veranderinge in persoonlikheid kan meebring.  Veranderinge is veral prominent ten opsigte van ‘n afname in neurotiese trekke en ‘n toename in ekstroversie. Vanuit ‘n geestesgesondheid-perspektief is dit ‘n baie positiewe bevinding aangesien neurose en emosionele onstabiliteit ‘n belangrike oorsaak is van geestesongesteldheid, terwyl ekstraversie meestal met ‘n gelukkiger en meer optimistiese lewensuitkyk in verband gebring word.

Volgens die outeurs van die navorsings, Brent Roberts van die Universiteit van Illinoi en sy kollegas, vind persoonlikheidsveranderinge besonder vinnig plaas wanneer terapeuties ingegryp word. Net ‘n paar weke van terapie lei tot ongeveer helfte soveel verandering in neurose en emosionele stabiliteit as wat gewoonlik oor ‘n hele leeftyd plaasvind (alle mense is geneig om emosioneel meer stabiel te word namate hulle ouer word).

Roberts en sy span wou veral vasstel of die persoonlikheidsverandering wat gemeet is net tydelike verandering in gemoedstoestand was en of dit blywende verandering ten opsige van persoonlikheidstrekke was. Hulle het bevind dat groter verandering by die terapeutiese groep plaasgevind het in vergeleke met die kontrole groep en dat die verandering vir jare voortgeduur het. Hulle het ook ‘n klein groepie mense ondersoek wat geen geestesprobleme ervaar het nie, en kognitiewe opleiding eerder as terapie ondergaan het. Ook hier is sterk bewyse gevind van betekenisvolle verandering in persoonlikheidstrekke, wat nogmaals bewys het dat die invloed op persoonlikheid nie bloot ‘n terugkeer na ‘n nie-depressiewe staat was nie, maar ‘n relatief permanente verandering wat ten opsigte van persoonlikhiedstrekke plaasgevind het.

‘n Ander interessante bevinding was dat die omvang van verandering wat plaasgevind het ongeveer dieselfde was vir verskillende tipes terapie wat gebruik is – of dit bv kognitiewe gedragsterapeutiese ingryping of psigodinamiese terapie was, het nie die resultate beïnvloed nie. Hospitalisasie het met die minste verandering gepaard gegaan. Kliënte wat met depressie of persoonlikheidsversteurings gediagnoseer is het die meeste verandering getoon, en geen verskille is gevind oor ouderdom- en geslagsgrense heen nie. Dit wys weereens dat persoonlkheid ‘n dinamiese stelsel is wat vatbaar is vir verandering regoor die lewensduur.

Daar is wel leemtes in die studie, bv die feit dat daar feitlik deurgaans op die kliënte se eie beoordelings oor hul persoonlikheid staat gemaak is. Die feit dat daar nie deurgaans positiewe verandering aangedui is nie kan egter daarop dui dat dit nie die resultate skeef getrek het nie. Ook beantwoord die navorsing een belangrike vraag nie:  hoe bring terapie die verandering te weeg?

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1