Nuus Flitse

Eensaamheid is oorerflik

Eensaamheid is nie net ‘n geestesgesteldheid nie – dit word deels geneties oorgedra en is dus oorerflik. Omgewingsfaktore speel egter ’n nog groter veroorsakende rol en die moderne leefwyse ondersteun dit.

Die mens is ’n kuddewese  vir wie vriendskap en die gevoel dat hy “behoort”  net so belangrik vir sy voortbestaan is soos kos. Sosiale isolasie, of eensaamheid, is ’n siekte van die moderne tyd en kan selfs meer nadelig vir gesondheid wees as rook of vetsug.   Dit is een van die belangrike veroorsakende faktore van vroeë dood.

Navorsers aan die Universiteit van California San Diego Mediese Skool het bevind dat eensaamheid gedeeltelik oorerflik is maar dat omgewing ‘n selfs nog groter rol speel.  Studieleier Abraham Palmer wys daarop dat, soos wat fisieke pyn ‘n aanduiding kan wees van potensiële inflammasie, eensaamheid as ‘n waarskuwingsteken gesien moet word van ’n wanbalans in die sosiale funksionering van die indiwidu. Mense verskil ook in terme van hul belewing van eensaamheid: dieselfde aantal vriende en familie kan deur een persoon as voldoende en deur ’n ander as onvoldoende beleef word.

Palmer en sy span het die data van 10 750 mense van 50 jaar en ouer ontleed.  Die term “eensaam” is nie tydens die studie gebruik nie aangesien mense, veral mans, nie graag erken dat hulle eensaam voel nie. Voorsiening is wel gemaak vir geslagsverskille, ouderdom en huwelikstaat, aangesien getroudes geneig is om minder eensaam te voel as ongetroudes.

Die navorsers het bevind dat ’n leeftyd van eensaamheid (nie net ’n tydelike gesteldheid as gevolg van omstandighede nie), 14% tot 27% oorerflik is. Vroeëre  navorsingstudies met tweelinge het dit op 37% tot 55% bereken. Die verskil kan waarskynlik daaraan toegeskryf word dat daar tydens die huidige studie ’n ander metode gebruik is wat net op algemene genetiese verskille, eerder as rare verskille, gefokus het. Ook het die navorsers op ouer individue in die VSA gefokus in teenstelling met jonger persone in Europa tydens vorige studies. Palmer waarsku verder dat vorige studies heelwat kleiner steekproewe gebruik het as hy.

Die resultate het vervolgens ook  ’n sterk genetiese verband getoon tussen eensaamheid en die oorerwing van neurose (‘n langtermyn negatiewe emosionele gesteldheid) en depressie.  ’n Minder betekenisvolle verband is ook gevind met skisofrenie, bipolêre versteuring en major depressiewe versteuring.

Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat eensaamheid soos in hierdie studie gedefiniëer ‘n matig oorerflike karaktereienskap met ‘n hoogs poligenetiese argitektoniese struktuur is (met ander woorde die basiese onderliggende genetiese struktuur van eensaamheid word deur twee of meer genes bepaal). Die mede-oorerflikheid  tussen eensaamheid en neurose kan daarop dui dat ‘n negatiewe geestesgesteldheid ‘n belangrike rol by beide speel.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1