Om neuroties te wees het ook ‘n groot voordeel: dit gaan gepaard met kreatiwiteit. Baie eenvoudig gestel is neurose die geneigdheid tot negatiewe gedagtes en gevoelens. Neurotiese individue is meer kwesbaar vir geestesafwykings en presteer baiemaal swak in gevaarlike beroepe, maar vele studies het al bevind dat hulle dikwels meer kreatief as die gemiddelde persoon is. Navorsers Perkins, Arnone, et. al is van mening dat neurose die gevolg is van die geneigdheid tot negatiewe “selfgegenereerde gesprekke” – mense wat aan neurose lei oordink dinge as’t ware te veel in ‘n negatiewe sin.
Neurose is vir lank deur sielkundiges gesien as ‘n oorreaksie op gevoelens van bedreiging. Volgens dr Adam Perkins, hoofouteur van die huidige studie, kan hierdie verklaring nie die volle waarheid weerspiëel nie.
Kenmerkend van neurotiese mense is onder andere dat hulle “sommer maar net misrabel” voel, dikwels skuldig voel, hulle kwel oor dinge wat miskien verkeerd kan loop, soms wens dat hulle eerder dood was, vernederd voel lank na ‘n negatiewe insident, ens. In baie van hierdie situasies word hulle glad nie bedreig nie. Dit verklaar ook nie waarom so baie studies reeds bevind het dat mense wat aan neurose lei meer kreatief is nie. Op watter wyse kan sensitiwiteit vir gewaande bedreiging kreatiwiteit stimuleer?
Neurosielkundiges het bevind dat neurotiese mense hoë breinaktiwiteit ervaar in die mediale prefrontale korteks. Dit is die breinarea waar selfgegenereede gedagtes gesetel is. Perkins en sy kollegas spekuleer derhalwe dat neurose die gevolg is van selfgegenereerde negatiewe gevoelens, met ander woorde neurotiese mense oordink dinge te veel op ‘n negatiewe manier.
Dit verklaar waarom neurotiese mense meer kreatief is: hulle gaan langer as die gemiddelde persoon op probleme hink totdat hulle ‘n unieke oplossing kan vind. Kreatiwiteit word reeds daardeur gekenmerk dat probleme opgelos word op ‘n unieke wyse en anders as op die tradisionele manier.
Perkins verklaar dit as volg: Indien die individu ‘n oorwig negatiewe selfgegenereerde gedagtes produseer as gevolg van spontane aktiwiteit wat in die mediale prefrontale breinarea plaasvind, waar die bewuste gewaarwording van bedreiging gesetel is, beteken dit dat daardie individu erge negatiewe gevoelens ervaar, al is daar geen werklike bedreiging nie. Dit kan daarop dui dat neurotiese mense, as gevolg van hulle breinfunksie, ‘n hoogs aktiewe verbeelding het, wat as ‘n ingeboude meganisme dien om gevoelens van bedreiging vry te stel. Dit kan help om die positiewe aspek van neurose, naamlik kreatiwiteit, te verklaar.
Luidens Dr Perkins is hulle nog ver daarvan om neurose ten volle te verklaar, en het hulle nog lank nie al die antwoorde nie. Hulle hoop egter dat hulle mense wat aan neurose ly kan help om sin te maak van hul eie ervarings en om aan hulle te toon dat, al is onaangenaam om aan neurose te ly, dit ook die voordeel van kreatiwiteit inhou.
Lewer kommentaar