Nuus Flitse

n Gelukkige sekslewe lewer n gelukkige werker

Wanneer werknemers tuis ‘n gelukkige sekslewe het verbeter dit hul werksbevrediging en betrokkendheid op kantoor, het navorsers aan die Oregon State University bevind.

Luidens navorser en studie outeur Keith Leavit, mede-professor aan die Oregon State University se Besigheidskollege, het hulle navorsing ‘n verband getoon tussen ‘n gelukkige sekslewe tuis en meer werkstevredenheid en betrokkenheid by take op kantoor.

Leavit en sy span het getroude werknemers vir ‘n periode van twee weke daagliks laat dagboek hou en bevind dat:

  • wanneer werknemers tuis aktief by seksuele aktiwiteite betrokke was, was hul gemoedstoestand op kantoor die volgende dag meer positief, ongeagdie invloed van huweliksgeluk;
  • seks tuis het sowel werkstevredenheid as betrokkenheid by take op kantoor verbeter, as gevolg van die beter gemoedstemming wat dit meegebring het;
  • daaglikse werk-familie spannings-konflik het die moontlikheid van seksuele aktiwiteit tuis betekenisvol verminder;

Volgens Leavitt verwys mense grappenderwys na die “huppel in die stap”, maar dit is in der waarheid ‘n realiteit en mense moet meer aandag daaraan gee. Om ‘n gelukkige verhouding tuis te handhaaf, wat ‘n gesonde sekslewe insluit, dra daartoe by dat die werknemer gelukkiger in sy werksomgewing is, wat voordelig vir sowel die werknemer as die organisasie vir wie hy werk.

Die studie het ook getoon dat wanneer werkverwante stres huis toe geneem word, dit ‘n negatiewe invloed uitoefen op die werknemer se sekslewe. Dit beklemtoon weereens die belang daarvan om balans te handhaaf tussen werkverwante verpligtinge en familiebelange.

Selfone en die Internet het veroorsaak dat werknemers dikwels verplig word om na-ure steeds by kantoorsake betrokke te wees, bv deur op werksverwante eposte te reageer. Die studie wys egter dat dit baie belangrik is dat werkverwante verligtinge op kantoor gelaat word. Wanneer werksverpligtinge die werknemer se persoonlike lewe tot so ‘n mate binnedring dat dit dinge soos sy sekslewe negatief beïnvloed, lei produktiwiteit en werkverrigting uiteindelik daaronder.

Seksuele aktiwiteit veroorsaak dat dopamien en oksitosien vrygestel word. Dopamien hou verband met die beloningsentra van die brein, en oksitosien het ‘n invloed op die vorming van sosiale bande. Gevolglik verbeter seks op natuurlike wyse en relatief outomaties die gemoedstoestand, en die voordele daarvan is op kantoor sigbaar.

Een-honderd-nege-en-vyftig getroude werknemers het aan die studie deelgeneem.  Hulle moes oor ‘n tydperk van twee weke daagliks twee kort vraelyste voltooi. Dit het getoon dat wanneer hulle in seksuele aktiwiteite betrokke was, hulle gemoedstoestand die volgende dag meer positief was, wat veroorsaak het dat hulle meer betrokke was by die werk en meer werksbevrediging ervaar het. Die invloed was ewe sterk vir mans en vroue en het vir ten minste 24 uur voortgeduur. Die invloed is ook opgemerk ongeag huweliksgeluk of slaapkwaliteit, wat gewoonlik goeie voorspellers van daaglikse gemoedstoestand is.

Volgens Leavitt beklemtoon dit die feit dat seks sosiale, emosionele en fisiologiese voordele inhou, en dit is derhalwe noodsaaklik om dit ‘n prioriteit te maak. Mense moet doodeenvoudig tyd maak daarvoor. Werk-lewe balans is uiters belangrik en voordelig vir beide die maatskappy en die werknemer, en werkgewers moet dit aanmoedig.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1