Nuus Flitse

Bo redelike twyfel? Hoe betroubaar is ooggetuies?

Na die bekendstelling van DNS toetse in die 1990’s is 239 veroordeeldes in Amerika op grond van die nuwe bewyse vrygespreek. Van hierdie skuldigbevindings was 73% gebaseer op getuienis gelewer deur ooggetuie! Dit beklemtoon weereens tot watter groot mate ooggetuies kriminele sake verkeerdelik kan beïnvloed. Die menslike geheue is plooibaar en hoegenaamd nie onfeilbaar nie, soos wat weereens deur die huidige studie bevind is.

Navorsers aan die Florida Atlantiese Universiteit wou toets hoe menslike geheue sowel as die gebruik van foto’s deur die polisie deur subtiele nuanse kontamineer kan word. In ‘n laboratorium-opset het hulle getoets hoe maklik onbewuste oordrag kan plaasvind – wanneer ‘n ooggetuie volgens ‘n foto of tydens ‘n uitkenningsparade ‘n bekende maar onskuldige persoon verkeerdelik aanwys as die oortreder.

Polisiedepartemente maak van ‘n verskeidenheid metodes gebruik om oortreders uit te ken.  Hulle kan individuele foto’s of ‘n groot aantal gesigfoto’s gebruik, of saamgestelde sketse, of uitkenningsparades. Die ooggetuies word dikwels aan een of meer van hierdie metodes blootgestel, tesame met terugvoer deur die wetstoepassers.

Volgens Alan Kersten, mede-mouteur van die studie, is daar verskeie maniere waarop die getuienis van ooggetuie gekontamineer kan word deur misleidende inligting.  Daarom moet geheue soos enige ander vorm van forensiese inligting hanteer word. Indien die korrekte metodes gevolg word  kan waardevolle inligting egter bekom word.

Die navorsers wou bepaal hoe maklik getuies ‘n assosiasie tussen ‘n foto van ‘n bepaalde persoon en ‘n handeling kan vorm, wat later valslik in die geheue herroep kan word, indien die volgende vraag aan hulle gevra word terwyl die foto aan hulle gewys word: Is dit die persoon wat dit gedoen het?

Deelnemers aan die studie is in twee ouderdomsgroepe verdeel:  een groep met ‘n deursnee ouderdom van 19 jaar en een met ‘n deursnee ouderdom van 71 jaar. Aan elke deelnemer is ‘n reeks video-uittreksels gewys van akteurs wat eenvoudige handelinge uitvoer. Hulle opdrag was om te onthou wie wat gedoen het.

Die navorsers het ‘n reeks van 84 gesigfoto’s uit die video saamgestel. Vir elke proeflopie is twee foto’s aan die deelnemers gewys: een van die akteur en een van ‘n vreemde persoon. ‘n  Vraag oor ‘n bepaalde handeling is telkens saam met die foto’s gevra, bv: Watter van hierdie persone het jy in die video gesien wat die plante natgegooi het?

Na afloop van die proewe is al die ouer individue en helfte van jongeres onmiddellik getoets om te bepaal hoe akkuraat hul herinnering was van dit wat hul gesien het. Die ander helfte van die jong individue het drie weke later teruggekeer om getoets te word.

Die navorsers se vermoedens is bevestig: ‘n foto tesame met die vraag “is dit die persoon wat dit gedoen het?” kan veroorsaak dat ‘n assosiasie gevorm word tussen die persoon en die bepaalde handeling. Hulle het bevind dat beide die ouer en die jonger individue meer geneig was om die gebeure inkorrek te onthou wanneer die akteurs in die video ook op die foto’s verskyn het. Die wyse waarop hulle dit onthou het het egter verskil.

Die ouer volwassenes was geneig om ‘n vae gevoel van bekendheid te ontwikkel vir die persoon op die foto en bekende handelinge uit die video, wat hulle dan later valslik laat glo hulle het die persoon sekere handelinge sien uitvoer, al was dit nie die die handeling wat tydens die vraag gesuggereer is nie. Die jong volwassenes was weer geneig om ‘n assosiasie te vorm tussen die foto van ‘n bepaalde akteur en die gesuggereerde handeling. Gevolglik glo hulle later dat hulle die persoon die handeling sien uitvoer het.

Volgens Earles, een van die studie outeurs, is vals geheue ‘n uiters sorgwekkende verskynsel vanuit ‘n wetregtelike perspektief gesien, aangesien dit veroorsaak dat ‘n ooggetuie ‘n gesig valslik met ‘n handeling op ‘n misdaadtoneel vereenselwig. Wat dit nog moeilike maak is die feit dat dit jare kan neem voor ‘n saak uiteindelik in die hof aangehoor word, wat veroorsaak dat die geheue nog verder deur die groot tydsverloop beïnvloed word. Beide Kersten en Earles waarsku dat hierdie tipe geheue met besondere selfvertroue gepaard gaan, veral by jonger getuies. Hulle is absoluut oortuig dat hulle bo redelike twyfel kan sê dat hulle wel gesien het hoe die oortreder die misdaad uitvoer.

Volgens Kersten kan ooggetuies wel die misdaad onthou sowel as dat hulle ‘n persoon wat bekend lyk voorheen gesien het, maar hulle kan relatief maklik die twee stukke ingligting valslik met mekaar assosieer. Omdat hulle die persoon binne die konteks van die misdaadtoneel kan onthou kan hulle selfversekerd “onthou” dat hulle gesien het hoe die persoon die oortreding pleeg.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1