Nuus Flitse

Gereelde seks verbeter geheue

Jong vroue wat gereeld seks beoefen se geheue verbeter, het navorsers aan Mc Gill Universiteit in Kanada bevind. 

48424770 - young adult heterosexual couple lying on bed in bedroom

Vorige studies het reeds getoon dat gereelde seks (penis-tot-vagina-omgang tussen manlike en vroulike persone) tot ’n verbetering in geheue gelei het by jong mans sowel as manlike lede van ander spesies.  Die navorsers wou nou vasstel of dit ook die geval sal wees by jong vroue.

Vir die doel van die studie is 78 jong vroue tussen die ouderdom van 18 en 29 jaar gevra om ‘n vraelys te voltooi, waarna hulle ‘n reeks geheuetoetse ondergaan het. Die toetse was daarop gerig om hul vermoë om dinge te onthou te meet en het gesig- en woordherkennings-oefeninge ingesluit. Foto’s van gesigte en woorde is aan die vroue getoon en na verloop van ‘n tydsperiode moes hulle probeer onthou wat hulle gesien het.

Volgens die navorsers het die vroue wat meer gereeld seksuele omgang gehad het beter tellings op die toetse behaal as die wat minder gereeld seks gehad het. Verder is die beter tellings tov sowel gesig- as woordherkenning aangeteken, maar tellings tov woordherkenning was veral hoog. Vroeëre navorsing het getoon dat seks neurogenese (die ontwikkeling van nuwe breinselle) in die hippokampus van die brein versterk het. Die hippokampus is betrokke by geheue en retensie, veral gedurende verbale kommunikasie.  Daar is ook vroeër reeds bevind dat gereelde seks  die vlakke van die neurosenders wat goed-voel emosies stimuleer verhoog.

Die presiese rede waarom seks geheue verbeter kon nog nie onweerlegbaar deur die navorsers vasgestel word nie, maar hulle spekuleer dat dit verband hou met die fisieke uitputting wat deur seks veroorsaak word, wat ‘n verbetering  in bloedvloei en metabolisme bewerkstellig.  Dit is nog nie duidelik of die kwaliteit en duur van die seks, en of orgasme bereik word, ‘n invloed uitoefen nie.  Die navorsing was deel van ‘n groter studie wat die verband tussen geheue en verskeie ander aktiwiteite probeer vasstel het.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1