Nuus Flitse

Geheue word negatief beïnvloed deur verkeerde eetpatrone

Leer en geheue word negatief beïnvloed wanneer buite die normale wakker ure geëet word, het Navorsers aan die Universiteit van Californië bevind.

Sikardiese ritmes

Baie liggaamsprosesse volg ‘n 24-uur siklus, byvoorbeeld tye van slaap en wakker wees, liggaamstemperatuur, bloeddruk en hormoonvlakke. Dit staan bekend as die sirkadiese ritme en beheer ook wanneer ‘n mens honger word, wanneer jou spiere optimaal funksioneer en wanneer die brein op sy skerpste is.

Die liggaam se horlosie

‘n Klein area binne die hippotalamus van die brein, die suprachiasmatiese nukleus, hou die sirkadiese ritmes in stand en dien basies as die liggaam se horlosie. Daaglikse blootstelling aan lig sinkroniseer die sikardiese siklus in ‘n 24-uur dag/nag ritme. Meeste organe het egter ook hul eie horlosies, wat in sinkronisasie met die sikardiese ritmes werk, en die funksionering van elke orgaan reguleer.

Sikardiese ritmes is belangrik vir goeie gesondheid en breinfunksies

Algemene gesondheid en breinfunksies is afhanklik van die instandhouding van die sikardiese ritmes. Vorige navorsing het reeds bewys dat langdurige tekort aan slaap algemene gesondheid benadeel en herstelprosesse vertraag. Tydens meer resente navorsingstudies is ook bevind dat ongereelde etenstye die sikardiese siklus negatief beïnvloed, sodat die spysverteringstelsel nie optimaal kan funksioneer nie. Maaltye tydens die slaapfase veroorsaak versnelde gewigstoename by diere in vergelyking met die wat tydens die normale wakker-fase gevoer word. Mense wat tydens die slaap-fase eet ontwikkel hartprobleme en metaboliese tekortkominge, wat tot ‘n pre-diabetiese toestand kan lei.

Ongereelde eetpatrone veroorsaak breinveranderinge wat leer en geheue strem

Navorsers het nou bevind dat indien muise, wat normaalweg tydens die nag vreet, gedurende die dag gevoer word, breinveranderinge in die hippokampus plaasvind wat leerfunksies en geheue ernstig benadeel. Sekere tipes aangeleerde gedragspatrone was veral kwesbaar.

Tydens die eksperiment is die totale aantal ure slaap wat die muise gekry het nie verminder nie, net die eetritmes is versteur deur die muise gedurende die dag te voer, in plaas van gedurende die nag. Verdere studies is nodig alvorens met sekerheid gesê kan word dat die resultate ook op mense van toepassing is. Indien wel kan dit egter verreikende implikasies inhou vir mense wat weens werk en sosiale verpligtinge gedwing word om buite hul natuurlike liggaamsritmes te eet.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1