Nuus Flitse

Watter tipe Facebook gebruiker is jy?

facebook_friendsBinne ons Westerse kultuur is jy bykans ‘n uitgeworpene as jy nie bekend is met facebook nie. Oud en jonk het facebookprofiele waardeur hulle met vriende, bure, oorseese en plaaslike familielede en selfs kollegas in verbinding bly. Na raming is daar tans ongeveer 1.49 biljoen aktiewe maandelikse facebook-gebruikers. Besighede en selfs professionele persone gebruik dit as ‘n kragtige bemarkingsmedium. Facebook lewer ‘n sterk positiewe bydrae in terme van gemeenskapsbetrokkenheid, sosiale verbondenheid en identiteitsvorming. Dit kan wel ook lei tot kuber-boelie, en gevoelens van sosiale verwerping, isolasie en depressie.

Die miljoen dollar vraag

Almal wat Facebook gebruik is bekend met die groot verskeidenheid inhoude wat mense geneig is om te publiseer. Die miljoen dollar vraag bly egter: Wat sê dit wat jy op Facebook publiseer en die gereeldheid waarmee jy dit doen van jou as mens? Die geringste en eenvoudigste inhoud wat ‘n persoon op facebook publiseer, of dalk nie publiseer nie, kan ‘n dieper betekenis hê en in sommige gevalle aanduidend wees van kernelemente van die persoon se persoonlikheid.

Facebook tipes

My persoonlike waarneming is dat Facebook veral gebruik word as ‘n medium waardeur gespog kan word – akademici praat van “self promoverende” boodskappe, ‘n term wat darem bietjie sagter op die oor val!!

Ek is tog sooo gewild: Daar is byvoorbeeld diegene wat graag wys hoe baie sosiale geleenthede hulle bywoon en almal wil oortuig hoe immer gewild hul is. Foto’s van sosiale geleenthede verskyn soos klokslag na elke naweek of selfs middel van die week, waar hulle breed glimlag en tog so gelukkig lyk tussen al hulle baie verskillende vriende.

Kyk tog my duur, eksotiese vakansie: Andere weer, kan die versoeking nie weerstaan om elke kleinste detail van hul vakansie op Facebook uit te blaker nie, veral as dit ‘n reis oorsee of na ‘n eksotiese bestemming is!!

facebookEk is die beste mamma of ouma en my kinders of kleinkinders is die heel oulikste en die slimste: Dan is daar diegenes wie se lewens om hul kinders en kleinkinders wentel en wat wil wys hoe oulik en slim hulle is, hoe wonderlik die verhouding tussen hulle is en watter goeie ouers of grootouers hulle is. Poppie het hier gedans, boetie ry fiets en sussie bak koekies saam met die wereld se beste ouma wat alles saam met haar kleinkinders doen en nooit die kind in haar ontgroei het nie. En die tipe insette progresseer saam met boetie en sussie se ouderdomme – en eindig in ‘n crescendo van nimmereindigende skool en sportprestasies!

Kyk hoe gelukkig getroud en geseënd is ek in my gesinsverhoudings: Sommiges sal gereeld foto’s publiseer van vroulief of manlief tesame met die kinders, met die onderskrif “Wat op die aarde het ek gedoen om dit te verdien?” Ja sowaar, so a onderskrif laat my ook wonder!! Dan is daar vroulief wat ‘hubby’ bedank omdat hy so ‘n wonderlike ‘hubby’ en ‘dad’ is, of overgesetsyne, skoonma wat skoonseun bedank omdat hy to so ‘n goeie skoonseun en pa is. Aggenee, neee neeee!! Sê dit tog vir hulle persoonlik en moenie ‘n openbare medium gebruik om dit aan die groot klok te hang nie!! Dis net ‘n goedkoop manier van spog om almal te wys hoe ‘gelukkig’ en ‘geseënd’ jy is en hoe goed die verhoudings in jou gesin is!!

Ek is tog heiliger as jy: Moet tog nie vergeet van die evangeliste wat ‘n nimmereindigende stroom motiverings en godsdienstige boodskappies publiseer, altyd afgesluit met “amen” of “blessings”. Hulle dink klaarblyklik hierdie tipe inhoude reserveer vir hulle ‘n plekkie in die hemel!

Ek is tog intellektueel verhewe bo jou: Hierdie tipe gebruikers handhaaf ‘n meer formele, intellektuele teenwoordigheid op facebook. Hulle plaas meestal interessante nuusberigte of kommentare op huidige gebeure in die nuus. Geen emosionele of teatrale en soetsappige boodskappies van hulle nie – hulle verkies om hul emosies agter rasionele inhoude te verskuil sonder om enige iets van hulself te verklap.

Die afloerders: Natuurlik is daar ook diegene wat nooit self iets publiseer nie, maar wat ten volle op hoogte is met elke kleinste detail van hul Facebook vriende se lewens!

Ek, ek myself en ek: Hierdie tipe gebruikers publiseer gedurig inligting oor hoe goed hulle lyk, hoe hard hulle werk om so te lyk, hoeveel ure en ure hulle in die gym spandeer en al die spierpyne en beserings wat hulle moet verduur om daar uit te kom.

Sielkundige navorsing oor die verskillende gebruikers:

Sielkundiges aan London se Brunel Universiteit het na aanleiding van ‘n wetenskaplike navorsingstudie patrone geïdentifiseer waarvolgens persoonlikheideienskappe as voorspeller gebruik kan word van die tipe statusopdaterings wat ‘n persoon op facebook sal publiseer. Die volgende gebruikspatrone is deur die navorsers geïdentifiseer:

Die persoon wie se statusopdaterings altyd oor sy kinders handel. Die navorsers het bevind dat hierdie individue waarskynlik baie pligsgetrou, georganiseerd en hardwerkend is. In vergelyking met ander facebook gebruikers is hulle geneig om meer vriende te hê.

Die gebruikers wat alles waarmee hulle wederhelftes of lewensgenote besig is aan die groot klok hang. Hierdie persone het ‘n lae selfbeeld en is innerlik onseker. Die “Wat het ek gedoen om dit te verdien?”-spoggery verteenwoordig ‘n poging om eiewaarde ‘n hupstootjie te gee en aan die wêreld te bewys dat alles nog wel is met die verhouding.

Facebook gebruikers wat hoofsaaklik politieke oortuigings en intellektuele inhoud publiseer. Hierdie individue is geneig om oopkop en ontvanklik vir nuwe gedagtes te wees, en is ook nuuskurig en kreatief.

Mense van wie elke statusopdatering ‘n foto is saam met ‘n groot klomp vriende. Hierdie persone is ekstroverte, het ‘n sterk behoefte om deel van ‘n groep te wees en is praatlustig. Facebook verteenwoordig vir hulle ‘n manier om hul asemrowende sosiale lewe ten toon te stel.

Die dramatiese tipes vir wie die lewensintriges nooit ophou nie. Hierdie persone is geneig om neuroties te wees. Inhoud wat deur hulle gepubliseer word gaan altyd gepaard met kwaai-gesig of huilgesig emotikons. Neurotiese mense is angstig en soek die aandag en ondersteuning wat hulle in hul daaglikse lewe mis aanlyn op Facebook. Die inhoude wat hulle publiseer is soms so emosioneel en sensitief dat dit die leser van verleentheid laat ineenkrimp.

Wanneer elke statusopdatering oor hul beseerde ‘abs’ of ‘gluts’ of hulle intensiewe eetprogramme en oefen regimes gaan. Hierdie individue is narsiste. Hulle is ekshibisionisties en belê baie tyd in hul persoonlike voorkoms. Hulle is aandagsoekers wat gedurig spog met hul prestasies. Alhoewel hierdie persone baie ‘likes’ kry op die inhoud wat hulle publiseer, het die navorsers bevind dat hulle facebook-vriende meestal net hoflik is en in der waarheid die “kyk na my!” vertoon verag!

Dit is dus duidelik dat mense sonder dat hulle dit noodwendig wil doen, hulself en hul persoonlikhede op Facebook ten toon stel. Selfs al doen hulle in sommige gevalle hul uiterste bes om niks oor hulself te verklap nie, deur agter humor, intellektualisering of veilige onpersoonlike onderwerpe te skuil, vertoon hulle steeds kern elemente van hul persoonlikheid. Hoe dit ookal sy, insig in die beweegredes agter mense se status opdaterings bring begrip en maak dat mens meer verdraagsaam kan wees teenoor inhoude wat volgens jou oordeel onvanpas is.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1