Nie alleen het verskeie navorsingtudies reeds ‘n verband getoon tussen hoër intelligensie en die beoefening van musiek nie, daar is nou ook bevind dat dit gedrags en sosiale aanpassing positief beïnvloed.

Verskeie navorsingstudies het reeds getoon dat musiekopleiding op ‘n vroeë ouderdom die senuverbindings in die brein stimuleer wat nodig is om komplekse wiskundige en wetenskaplike konsepte te verstaan. Musiek oefen die brein en stimuleer ook taalontwikkeling, redenering en kreatiwiteit.
Navorsers aan die Universiteit van Vermont Kollege van Medisyne het die grootste bestaande navorsingstudie gedoen om die verband tussen musiekbeoefening en breinaktiwiteit te bepaal. Vir die studie het hulle die breinaktiwiteit van kinders wat spesifieke instrumente bespeel ondersoek. Hulle het gebruik gemaak van breinskanderings van kinders tussen die ouderdomme van ses en agtien jaar by wie geen geestessiektes of abnormaliteite gediagnoseer is nie.

Soos wat kinders groei, verdik die buitenste laag van die brien – die korteks. Tydens vorige studies is bevind dat die verdikking of verdunning van die bepaalde areas van die brein selfs by kinders by wie geen geestesafwykings gediagnoseer is nie, verband hou met angs, depressie, aandaggebrek, aggressie en gedragsbeheer. Die doel van die huidige studie was om te bepaal of musiekopleiding ‘n invloed op hierdie aanwysers sou uitoefen.
Die navorsers het bevind dat hoe meer ‘n kind op ‘n musiekinstrument geoefen het, hoe groter was die verdikking wat plaasgevind het in die breinareas wat aandag, angshantering en emosionele beheer reguleer. James Hudziak, professor in psigiatrie aan die Universiteit van Vermont en Direkteur van die Vermont Sentrum vir Kinders, Jeugdiges en Gesinne, stel dit gelyk aan spiermassa wat vergroot wanneer met gewigte geoefen word. Op dieselfde wyse verdik die breinkorteks wanneer dit deur musiekopleiding gestimuleer word.
Hudziak is veral opgewonde oor die veranderinge wat musiekopleiding in die gedragsbeheer areas van die brein laat plaasvind. Hy glo dat musiekopleiding na alle waarskynlikheid veral positief kan wees vir kinders by wie geestesafwykings aanwesig is.
Lewer kommentaar