Nuus Flitse

Die sielkunde van trefferliedjies

Musiek dra nou wel nie direk by tot die oorlewing van die menslike spesie nie, maar vorige navorsingsresultate het reeds getoon dat dit,  soos kos of seks, intense  beloningsresponse in die menslike brein kan wakker maak. Neurobeelding het baie van die meganismes geïdentifiseer wat die beloningsresponse dryf wanneer iemand na sy gunsteling musiek luister. Min was egter tot nou bekend oor watter strukturele aspekte van die musiek hierdie meganismes dryf.

Tydens hierdie studie het die navorsers op die samestelling van die liedjie gefokus en wou hulle bepaal of  struktuurelemente, soos harmoniese verrassings ‘n invloed kan uitoefen. Verrassing is belangrik omdat dit ‘n maatstaf van nuwe inligting is – een van die brein se ingeboude of inherente voorkeure waaraan die beloningsentra baie waarde heg.

Die navorsers het van data gebruik gemaak afkomstig vanaf die McGill Billboard Projek.  Transkripsies van 732 Westerse popliedjies wat oor ‘n tydperk van 34 jaar (vanaf 1958 tot 1991) uit die Billboard se “Hot 100” gekies is, is gebruik. Dit bied ‘n verteenwoordigende steekproef van populêre musiek uit daardie tydperk. Die data sluit akkoorde in, wat dit moontlik maak om die verrassingselement wetenskaplik te toets. Die feit dat die liedjies uit die “Hot 100” gekies is impliseer dat dit voorkeur musiek was. Die posisie van liedjies word bepaal deur verkope en lugtyd van die musiek.

Die navorsers het bevind dat liedjies op die boonste kwartiel van die McGill Billboard Projek beduidend meer verrassingselemente bevat het as die kwartiel-4 liedjies. Dit was die geval deur die hele tydsduur van die liedjies.

Die populêre popliedjies het dikwels relatief skaars akkoorde ingesluit, dws hulle het ‘n sterk harmoniese verrassingselement bevat. Harmoniese verrassings is wanneer die musiek afwyk van die luisteraars se verwagting. Sulke strukuurveranderinge is geneig om genotvolle beloningsresponse in die brein wakker te maak. Harmoniese verrassing verbeter dus die kans dat ‘n liedjie ‘n treffer kan word. Verder was die liedjies ook geneig om koorgedeeltes te bevat wat relatief min harmoniese verrassings inhou, en dit is voorafgegaan deur dele met baie raar akkoorde.

Dit is nie net die verrassende element van ‘n liedjie wat deur die brein as genotvol beoordeel word nie. Die terugkeer na normaliteit na die verrassingselement is eweneens genotvol. Die brein geniet verrassings, maar net tot op ‘n punt. Daarom ook dat die brein se beloningssentra positief beïnvloed word wanneer die spanning in ‘n liedjie verbreek word deur ‘n eenvoudige koor. Die brein het diepgesetelde voorkeure, wat mense se genieting van musiek beïnvloed.

‘n Geleidelike toename in die verrassingselement van ‘n liedjie laat mense genot ervaar, wat dan ‘n liedjie op hulle voorkeurlys plaas.  Dieselfde gebeur wanneer kontrasterende verrassingselemente gebruik word, waar onaangename gevoelens van spanning opgewek word, gevolg deur ‘n lae verrassingselement wat aangename gevoelens wakker maak.- NeuroscienceNews

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1