Kan mense leer terwyl hulle slaap? Verskeie navorsers het lank reeds hierdie vraag probeer beantwoord, met teenstrydige resultate. Die rede waarom verskillende studies teenstrydige resultate opgelewer het, is nou vasgestel: die menslike brein kan net tydens sekere stadiums van slaap leer.
Navorsers het ingewikkelde musiekverwerkings gespeel aan 23 slapende persone, en bevind dat wanneer hulle wakker geword het, hulle dié dele kon onthou wat herhaaldelik tydens die REM-fase en N2-tipe slaap gespeel is. REM-slaap (Rapid eye movement-slaap) word gekenmerk deur vinnige oogbewegings en dit is die stadium waartydens mens droom. N2-slaap dui op ‘n stadium van ligte Non-REM-slaap.
Dieselfde blootstelling tydens die dieper N3-slaap (‘n dieper fase van Non-REM-slaap) het verrassend ‘n negatiewe uitwerking op geheue en leer gehad. Wanneer musiekverwerkings wat tydens die REM-stadium geleer is tydens die N3-stadium gespeel is, is dit afgeleer, asof dit uit die geheue uitgewis is. Dit was ook moeiliker om dié verwerkings wat tydens die N3 fase uitgevee is, weer te leer as om nuwe, totaal onbekende inhoude te leer. Luidens die navorsers bevestig dit teorieë dat N3-slaap die warboel van herinneringe in die geheue opklaar.
Verdere navorsing is nodig om te bepaal hoe die resultate in die praktyk van waarde kan wees.-MedicalXpress
Lewer kommentaar