Nuus Flitse

Ons Neanderdal erfenis

Navorsers aan die UK Biobank Resource het bevind dat ongeveer 2% van die DNS van die moderne mens, uitsluitend Afrikane,  van die Neanderdalmense afkomstig is. Alhoewel ons Neanderdaller afkoms oorwegend negatief is,  is daar wel ook allele of geenmutasies geïdentifiseer wat vermeerder het en wat positief bydra tot ons aanpassing by die omgewing. Baie van ons Neanderdal gene hou verband met die risiko om verskeie siektetoestande te ervaar, soos depressie, letsels op die vel, hoë cholestrol, skisofrenie, ens. Ons Neanderdal erfenis beïnvloed ook onder meer gemoedstemming, slaappatrone, ons lus om te rook en hoe maklik ons in die son kan verbruin.

Bevindings het onder meer die volgende ingesluit:

  • Geen van die geenvariasies wat verband hou met die voorkoms van rooi hare by moderne mense is aanwesig in die Neanderdal genome nie. Neanderdallers blyk dus glad nie draers te wees van die gene wat rooi hare veroorsaak nie.
  • Verskeie Neanderdal geenvariasies hou verband velkleur en haartipe. Die implikasie is dat ‘n verskeidenheid van haarkleure en haartipes waarskynlik by Neanderdallers aangetref is, net soos by die moderne hedendaagse mens.
  • Europeërs se verhoogde sensitiwiteit vir sonbrand tydens die kinderjare, sowel as die feit dat hul moeilik in die son kan verbruin, is ‘n Neanderdal nalatenskap. Verrassend is daar ook ‘n Neanderdal geen gevind wat met donkerder velkleur verband hou.
  • Met die verloop van duisende en duisende jare het ‘n proses van natuurlike seleksie plaasgevind. Gevolglik bestaan daar nou ‘n fyn balans tussen Neanderdal- en menslike gene wat vel- en haarkleur aanbetref. Mense met ligte velle en hare beskik dus tans oor ‘n seleksie van die beste genome van beide hul Neanderdal en menslike erfenis.
  • Neanderdal-genes dra ook by tot verskille in slaappatrone, ‘n voorkeur om ‘n aandmens te wees en om gedurende die dag uiltjies te knip en narkolepsie. Dag/nag-siklusse het ook ‘n uitwerking op sirkadiese ritmes. Meer Neanderdal geenmutasies is gevind by gemeenskappe verder van die ewenaar as by dié nader aan die ewenaar, en dit stem ooreen met die invloed van dagligblootstelling op sirkasiese ritmes.
  • Ander nuut geïdentifiseerde Neanderdal genome wat by menslike wesens aanwesig is sluit genes in wat verband hou met lengte in volwassenheid, polsslag en die verspreiding van vet in die bene. Neanderdal-genes beïnvloed ook gemoedstemming, soos deur blootstelling aan sonlig bepaal, en selfs of ons varkvleis eet of nie. Die navorsers het selfs bevind dat mense wat oor ‘n sekere Neanderdal-geen beskik meer geneig sal wees om rokers te wees.

Hierdie studie beklemtoon weereens hoe sterk die invloed van evolusie is, en tot hoe ‘n groot mate baie van die moderne mens se uitdagings steed daaraan toegeskryf kan word.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1