Nuus Flitse

Waarom kom egskeidings dikwels in familieverband voor?

Biologiese kinders van geskeide ouers is meer geneig om te skei, vergeleke met biologiese kinders uit twee-ouer huise, het navorsers aan Virginia Commonwealth University en die Lund University in Swede, bevind.

Tydens hierdie studie is bevind dat aangenome kinders se gedrag wat egskeidings aanbetref dié van hul biologiese ouers en sibbes weerspieël, en nie dié van hul aanneemouers en sibbes nie. Waar egskeidings in familieverband voorheen uitsluitlik  aan sielkundige faktore toegeskryf is,  verskuif hierdie bevinding nou die fokus na die moontlike invloed van genes.

Die data, wat verkry is vanaf die Sweedse nasionale register, het deurgaans bevestig dat genetiese faktore primêr die oordrag van egskeiding tussen generasies verklaar het. Hierdie bevindings is grondverskuiwend aangesien dit afwyk van die narratief wat tot in hierdie stadium in egskeidingsliteratuur gehandhaaf is, naamlik dat die kinders van geskeide ouers meer geneig is om te skei omdat hulle getuies is van hul ouers se gebrekkige toewyding aan die huwelik en hul stryd om konflik binne die huwelik te hanteer. Vorige literatuur beklemtoon feitlik sonder uitsondering dat kinders uit hierdie gebroke verhoudings hul ouers se gedrag internaliseer, met die gevolg dat hulle dan self  meer geneig is om te skei – die oordrag van egskeiding tussen generasies word dus deur sielkundige faktore gefasiliteer.

Erkenning van die belangrike rol wat genes in die oordrag van egskeiding tussen generasies speel kan terapeute toerus om paartjies wat huweliksprobleme ervaar op meer toepaslike wyse by te staan. Die huidige siening is dat wanneer jy in ‘n gebroke verhouding opgroei dit jou toewyding tot die huwelik en interpersoonlike vaardighede negatief beïnvloed, en terapie word hierop geskoei. Die insigte wat hierdie studie bied kan terapeute nou in staat stel om hul terapie dienooreenkomstig aan te pas en te konsentreer op persoonlikheidseienskappe wat geneties oorgedra is, en wat reeds bevind is dra by tot egskeidings, soos bv negatiewe emosionaliteit, lae vlakke van beheer, ens.

Vorige navorsing het bv getoon dat hoogs neurotiese individue hul huweliksgenote meer negatief sien as wat hulle vanuit ‘n objektiewe perspektief werklik is. Dit is hierdie onderliggende, persoonlikheidsgedrewe kognitiewe versteurings wat dan deur middel van kognitiewe gedragsbenaderings hanteer moet word, en nie toewydingsteurnisse en interpersoonlike vaardighede nie. – Navorsing deur Virginia Commonwealth University, sal binnekort in Psycholocial Science gepubliseer word

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1