Nuus Flitse

Wiskundige geletterdheid goud werd in alledaagse lewe

Navorsers het bevind dat ‘n sielkundige ingrypingsprogram wat daarop gerig was om studente deur ‘n taai statistiekkursus te help, ‘n baie wyer positiewe invloed uitgeoefen het.  Die ingryping was hoofsaaklik daarop gerig om die studente te help om hul wiskundige geletterdheid, of syferkundigheid, te verbeter. Maar, luidens Prof Ellen Peters, professor in sielkunde aan die Ohio Staats Universiteit, en hoofouteur van die studie, het die studente se beter syferkundigheid ‘n positiewe invloed ver buite die grense van die klaskamer gehad. Peters is van mening dat die studie weereens bewys hoe belangrik wiskunde in die alledaagse lewe is, al dink mens jy gebruik dit nie.

Meer as twee-honderd ingeskrewe voorgraadse studente in Sielkundige Statistiek het aan die studie deelgeneem. Sielkundige Statistiek is ‘n verpligte kursus vir studente wat beoog om Sielkunde as hoofvak te neem, en is vanweë die feit dat baie studente die Wiskunde moeilik vind, nie hoog op die gewildheidsleer nie!  Die navorsers wou vasstel of ‘n sielkundige ingrypingsprogram, waarna verwys is as “waardes-bevestiging”, daartoe kon bydra om hulle meer gemaklik met die wiskunde te laat voel. Die navorsers het gehoop dat dit ook sou uitkring na ander lewensareas waar syferkundighied belangrik is.

Tydens die aanvang van die kursus moes die studente ‘n lys van waardes rangskik in volgorde van die belang wat hulle persoonlik daaraan heg. Die waardes het aspekte ingesluit  soos gesinsverhoudings, vriendskapsverhoudings, geestelike en godsdiendige waardes, en die wetenskap en najaging van kennis. Helfte van die studente het 15 minute spandeer om neer te skryf waarom ‘n bepaalde waarde volgens hulle die mees betekenisvolste was – hulle was die waardes-bevestigingsgroep. Die ander helfte, die kontrolegroep, het verduidelik waarom die waarde wat laaste op hul lys verskyn het wel belangrik kon wees vir iemand anders. Net voor die eerste eksamen is die oefening herhaal.

Hierdie eenvoudige oefening het indrukwekkende resultate gelewer. Die studente wat die waardes-bevestiging gedoen het, het aan die einde van die kursus beduidend beter presteer op ‘n toets wat hul objektiewe wiskundige vermoëns gemeet het, vergeleke met dieselde toets aan die begin van die kursus. Verbeterde tellings is nie by die kontrolegroep gevind nie.

Die studente moes ook aan die begin en einde van die kursus ‘n vraelys voltooi wat gemeet het hoe goed hulle dink hulle in wiskunde is en hoeveel meer hulle van syfers as letters gehou het. Die toetsresultate aan die begin en einde van die kursus was onveranderd by die waardes-bevestiging groep. Die navorsers het dit as positief gesien aangesien die kontrolegroep se vraelystellings aan die die einde van die kursus swakker was vergeleke met die begin van die kursus, waarskynlik as gevolg van die stres en probleme wat hulle tydens die statistiekkursus ervaar het. .

Dit mag vreemd voorkom dat sielkundige ingryping ‘n verbetering in wiskunde tellings tot gevolg kan hê, maar ander studies het soortgelyke bevindings  gerapporteer. Die rede is dat die waardes-bevestiging studente herinner aan wat vir hulle belangrik is in die lewe. Gevolglik is hulle minder gestres oor die wiskunde en behaal hul vroeg in die kursus meer sukses, wat hul selfvertroue verhoog en waarop hulle kan bou vir selfs meer suskes. Dit is ‘n sneeubal-effek. Die vroeë sukses maak dat hulle harder probeer en dan nog beter presteer – ‘n siklus van sukses word gevestig.

Die belangrikste was dat die verhoogde wiskundetellings die studente ook in hul alledaagse lewe gehelp het. Die studente het beter presteer op finansiële geletterheidstoetse, en het beter gesondheidskeuses gemaak, soos om op te hou rook en om veilige seks te beoefen. In teenstelling het leerlinge in die kontrole groep swakker tellings behaal op sowel finansiële geletterheid as gesondheidskeuses in die toets aan die einde van die kursus vergeleke met die een aan die begin.

Nie alleen het die studente in die waardes-bevestiging groep beter wiskunde punte behaal nie, hulle het ook tydens hul universiteitsloopbaan meer wiskunde klasse geneem. Die navorsers kon egter nie bewys dat dit as gevolg van die die waardes-bevestigings ingryping was nie.

Luidens Peters lei beter syferkundigheid tot beter finansiele en gesondheids-besluite, omdat mense wat wiskundig onerlê is beter begrip het vir waarskynlikhede en minder deur die emosie van die oomblik beinvloed word. Hulle het dus meer begrip vir die gevolge van swak finansiele en gesondheidsbesluite.

Hierdie navorsingstudie plaas weereens ernstige bekendinge oor die Suid-Afrikaanse Departement van Onderwys se voorgenome besluit dat ‘n slaagsyfer in Wiskunde nie meer ‘n voorvereiste sal wees om graad 7, 8 en 9 te slaag nie. Dit sal waarskynlik baie meer voordelig vir die land wees indien hulle hul daarop sou toespits om die kwaliteit van wiskunde onderwys te verbeter. – Phys.org

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1