Nuus Flitse

Tale regoor die wereld deel baie klanke en woordassosiasies

Verskille tussen klank en betekenis is ‘n belangrike eienskap wat tale onderskei.  Tog het navorsers bevind dat ongeveer twee-derdes van die wêreld se onverwante tale dikwels dieselfde klank gebruik om na ’n spesifieke voorwerp of konsep te verwys.  So kom die ‘r’ klank byvoorbeeld dikwels in ‘rond’ voor en die ’n’ klank in ‘neus’.  Die ruimtelike en historiese verspreiding van hierdie ooreenkomste wys dat dit waarskynlik onafhanklik ontstaan het eerder as wat dit oorgeërf of geleen is uit ander tale.

Volgens Morten H Christiansen, professor in sielkunde en direkteur van Cornell se Kognitiewe Neurowetenskaplike Laboratorium, word hierdie ooreenkomste keer op keer regoor die wêreld  opgemerk, onafhanklik van taalherkoms of verspreiding.  Iets binne die mens blyk vir die patrone verantwoordelik te wees, maar navorsers kon tot nog nie vasstel presies wat nie.

Christiansen en ‘n span fisici, taalkundiges en rekenaarwetenskaplikes van Argentinië, Duitsland, Nederland en Switserland het 40 – 100 basiese woordeskat-woorde geanaliseer in 62% van die wêreld se meer as 6 000 huidige tale en 85 % van die taallyne. Hulle het bevind dat liggaamsdele veral geneig is om  taalooreenkomste te toon.  Die woord ‘neus’ bevat byvoorbeel dikwels die “neh” of  “oo” Klank, soos in “ooze”.  Die “b”, “p” of “l”-klank kom baie in “blaar”voor, “sand” bevat dikwels die “s” klank en “rooi” en “rond” die “r”-klank. Dit wil nie sê alle woorde het hierdie klanke in nie, maar die verwantskap is bo verwagting sterk.

Die bevindings diskrediteer een van die mees basiese konsepte van taal:  die eeue oue geloof dat die verwantskap tussen die klank van ‘n woord en sy betekenis arbitrêr is.

Wetenskaplikes kon nog nie vasstel waarom mense oor alle taalgrense heen dieselfde klanke gebruik om sekere woorde en objekte te beskryf nie. Christiansen spekuleer dat dit moontlik verband hou met die manier waarop kinders taal aanleer en gesetel mag wees in die brein, die manier waarop menslike wesens in interaksie tree of tekens wat gebruik word wanneer geleer word om taal te prosesseer. Dit bly ‘n sleutelvraagstuk vir toekomstige navorsing.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1