Perdry-aktiwiteite word wêreldwyd gebruik vir die behandeling van individue met geestes- en fisieke gebreke. Bo en behalwe die gesondheidsvoordele wat dit inhou soos ‘n verbetering in bloedsirkulasie en die verbetering van balans en motoriese funksies, hou dit ook velerlei psigiese voordele in soos die vermindering van angstigheid, ‘n afname in hiperaktiwiteit, verbetering van selfbeeld en ontspanning. Min studies is egter nog gedoen oor die waarde wat perdry vir kinders inhou en die onderliggende meganismes wat daarby betrokke is, aldus Prof Mitsuaki Ohta van die Universiteit van Tokyo.

Die rede waarom perdry so voordelig is, is omdat die beweging van die perd vibrasies veroorsaak wat die senustelsel aktiveer. Derhalwe het Ohta en sy navorsingspan die invloed van perdry op die prestasie van kinders gemeet deur hulle aan eenvoudige toetse te onderwerp direk voor en nadat hulle perd gery het, terwyl hul hartslag in reaksie op die perd se bewegings gemeet is.
Die kinders se gedrags-reaksies is getoets deur gebruik te maak van ‘n “Go/No-go”-toets, wat kognitiewe reponse meet deur gebruik te maak van gerekenariseerde vrae. Die toets bepaal die vermoë om toepaslik te reageer in ‘n bepaalde situasie deur ‘n handeling uit te voer, of selfbeheer uit te oefen. Die kinders moes ook eenvoudige rekenkundige probleme oplos.
Die resultate het getoon dat perdry aansienlike verbetering te weeg gebring het in die kinders se vermoë om gedragstake uit te voer. Prestasie op die rekenkundige take was nie so ingrypend nie. Ohta glo die verskil in resultate kan toegeskryf word aan die eenvoud van die rekenkundige probleme, aangesien ‘n toename in harslag alleenlik gedurende die gedragstoetse plaasgevind het. Die gedragstake het derhalwe die simpatiese senustelsel sterker geaktiveer.
Die resultate wys dat perdry kinders se kognitiewe vermoëns kan verbeter op die gebied van brein-gebaseerde vaardighede. Dit kan leervermoë, geheue en probleemoplossing ontwikkel. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat resultate kan wissel wanneer verskillende perderasse gebruik word.
Baie kinders het nie toegang tot perdryklasse nie en dit is krities om te ondersoek of dieselfde voordele verkry kan word deur interaksie met ander troeteldiere. Volgens Ohta hou mens-dier interaksie baie moontlikhede in vir kinderontwikkeling. Dit kan bv voordelig wees vir ontwikkeling van die vermoë om weldeurdagte besluite te neem of tot sinvolle gevolgtrekkings te kom, asook die vermoë om komplekse emosionele invloede en nie-verbale boodskappe reg te interpreteer en toepaslik daarop te reageer.
Lewer kommentaar